Somertyd op ’n plaas is ’n lekker tyd. Goeie somerreëns het begin val. Die weidings groei en die koeie se kondisie lyk goed. Kalwers is gesond en gelukkig en die groen veld laat alles somer vrolik lyk.
Daar is wel parasiete wat gepaard gaan met die somer en kan ’n negatiewe effek hê op die kudde se produksie en gesondheid.
In die somer is die grootste probleem, bosluise.
’n Hoë bosluislading kan nadelig wees vir die beeste en moet dus behandel word. As die lading hoog is oor die hele kudde, kan al die diere behandel word. As daar net sommige diere is met ’n hoë lading bolsuise kan die enkeles behandel word in plaas van net blindelings die hele kudde te behandel. Boere moet versigtig om te veel chemikalië te gebruik. Dit kan weer nadelig wees vir die natuur soos bosluisvoëls, miskuiers ens. ’n Paar bosluise kan teenwoordig wees in die kudde. As die beeste te skoon is kan hul geen weerstand hê teen bosluisoordraagbare siektes nie.
Die mees algemene bosluisoordraagbare siektes wat oorkom by beeste is galsiek of anaplasmose en rooiwater (Asiaties of Afrika). Rooiwater kom in sekere dele van die land voor. Raadpleeg jou veearts indien jy onseker is of dit wel in jou area voorkom. By kalwers kan bosluise sweetsiekte veroorsaak en daarom moet die bosluislading op kalwers ook dopgehou word.
Interne parasiete is oor die algemeen nie ’n groot probleem in Suid Afrika nie. Voor die boer wil behandel vir interne parasiete sal dit voordelig wees om ’n mismonster te neem. Die monster te laat ontleed en vas te stel of daar wel ’n probleem is met interne parasiete. Die boer kan dan behandel indien nodig.
Insekoordraagbare siektes waarvoor uitgekyk moet word is meestal virale siektes. In ’n goeie reënjaar soos vanjaar kan knopvelsiekte voorkom. Die beeste moet dus goed ingeënt word daarteen. Drie dae stywe siek is ook ’n siekte wat voorkom. Meeste diere behoort te oorleef, indien hulle rustig gelos word om self gesond te word. Bulle moet wel geënt word daarteen, want stywe siek kan veroorsaak dat die bul ses weke of langer na hy siek was, steriel wees.
Slenkdalkoors kan ook meer voorkom in ’n nat jaar, daarom moet die boer seker maak sy kudde is ingeënt teen dit.
Raadpleeg ook jou veearts vir enige inligting rakende siektes wat voorkom in jou omgewing en waarvoor uitgekyk kan word in die somer.
Voeding
Met die eerste somerreëns verander die veld sommer dadelik van ’n vaal droë gesig na ’n mooi groen en lewendige veld. Die nuwe groen gras wat uitgroei is goeie kos vir beeste en het genoeg voedingswaarde vir ’n koei met ’n kalf of ’n bul wat moet koeie dek.
Die veld kan wel tekorte hê en dit kan aangevul word met ’n lek. Die mees akkurate manier om die tekorte te identifiseer is met ’n gras monster. Laat dit analiseer en kyk watter tekorte aangevul moet word. Soms is daar net ’n bietjie fosfaat nodig en daarvoor kan fosfaat/soutblokke uitgesit word vir die diere.
’n Onderhoudslek is voldoende so op somerweidings na goeie reen. Indien dit nog droog is of die reën te min was om die veld te laat groei, moet die boer eerder aanhou produksielek aan die koeie met kalwers gee om sodoende die droë veld se tekorte aan te vul.
Voeding in die somer is eenvoudig omdat die veld in ’n groei fase is en genoeg voeding aan die diere bied.
Met goeie parasietbeheer en voldoende groen veld sal die koeie en kalwers op hul beste lyk. Produksie is positief en die boer is gelukkig.
Geskryf deur Zanmari Crous