Ten einde skaapvleis ekonomies te produseer, is dit nodig om aan sekere basiese produksievereistes te voldoen. Optimum produksie is alleenlik moontlik indien al hierdie faktore hul onderskeie invloede afsonderlik en gesamentlik laat geld.
Een van die belangrike faktore is die voorsiening van doeltreffende en effektiewe behuising en hanteringsfasiliteite.
Die elemente waaruit ‘n produksiestelsel bestaan, word grotendeels deur die kuddegrootte bepaal en kan die volgende insluit:
- Hanteringsfasiliteit
- Behuisingsarea
- Weidingskampe
- Voerprosesseringskompleks
- Hospitaal
- Administratiewe Kantoor
- Skeerskure
Klimaatvereistes is ook ‘n belangrike faktor, alhoewel skape goed aangepas is tot die klimatologiese toestande in Suid-Afrika.
Hierdie veranderings kan ‘n beduidende invloed hê op voerinname en die voorkoms van siektes.
Die algemene reël is: hoe droër, hoe gesonder die skape. Die terreinkeuse moet so gedoen word dat dit die totale plaasuitleg
komplimenteer en anderbedryfstakke in ag sal neem.
Ruimtebehoeftes vir skape
Algemene norme wat vir ontwerp- en beplanningsdoeleindes gebruik word:
- Voerkraal: 2 m²/skaap*
- Versamel of houarea
- 0,8 – 1 m²/skaap
- 1,5 – 1,8 m²/ooi met lam
- 0,5 – 0,75 m²/lam jonger as 1 jaar
- Opvangsarea: 0,5 m²/skaap
- Ramstalle: 5 m²/ram
- Kraamhokke: 2,5 – 3 m²/skaap
- Skaduwee-area in voerkrale
- 0,5 m²/skaap (0,3 – 0,75 m²/skaap)
- Afdroogkraal: 0,5 m²/skaap
*In gebiede met ‘n relatief lae reënval (400 mm/jaar) kan hierdie waarde verklein word tot ongeveer 1 m²/skaap.
Vreet en drinkspasie Rantsoenering:
- Volwasse skaap 0,4 – 0,5 m/skaap
- Lammers ± 4 maande 0,2 – 0,25 m/lam
- Lammers ± 1 jaar 0,3 – 0,35 m/lam
Selfvoerder of ad lib-voeding:
- Volwasse skaap 100 mm/skaap
- Lammers ± 4 maande 50 – 75 mm/lam
- Lammers ± 1 jaar 75 – 100 mm/lam
- Waterkrip 0, 3 m²/40 skape
Waterbehoeftes vir skape
In die ontwerp van die watervoorsieningstelsel moet voorsiening gemaak word vir ‘n reserwe stoorkapasiteit van minstens drie dae. Dit kan
selfs langer wees as die boerdery vêr van verskaffer diensnetwerke geleë is.
- Ramme 7,5 – 10 liter / dag /dier
- Droë ooie 7,5 – 10 liter / dag / dier
- Ooi met lam ± 12 liter / dag / dier
- Gespeende lammers ± 5 liter / dag / dier
Onthou dat skape lewensde wesens is wat ook aan stres onderworpe kan wees, wat sodoende hul weerstand teen siektes kan verlaag. Goed ontwerpte hanteringsfasiliteite wat die minimum hantering deur mense vereis, behoort gesonder skape met ‘n goeie vleisgradering tot gevolg te hê.
‘n Volledige Skaaphanteringsfasiliteite handleiding wat bogenoemde aspekte, en vele meer insluit, is beskikbaar by die LNR-Instituut vir
Landbouingenieurswese. Navrae kan gerig word aan Elmarie Stoltz by 012 842 4017 of e-pos: stoltze@arc.agric.za.