Die lewe op die platteland raak al hoe taaier en die aanslag op boere feller, terwyl behoeftige studente wie se ouers aangeraak word deur plaasellendes soos aanvalle, droogtes, brande en siektes meer word.
Helpende Hand gaan deesdae van krag tot krag en hulle studietrust reik al hoe wyer, oor meer en meer studievelde heen.
Hoewel daar reeds ʼn geruime tyd vir landboustudente voorsiening gemaak word, het dié hulporganisasie vanjaar besef daar is ʼn eiesoortige nood op plase en die platteland vir die kinders wat ook in plattelandse beroepe soos landbou en natuurbewaring wil studeer.
Landbou is gelyk aan voedselvoorsiening en meer belangrik, voedselsekerheid. Dit kan dus loshande as een van die belangrikste bedrywe gereken word. Soos die natuur al hoe meer verrassings vir ons uitdink, gaan hierdie bedryf meer kwesbaar word en in verskeie streke is die bewyse reeds daar dat dit kritieke afmetings toon.
Beleggings in landbou en toekomstige landbouers word dus van kardinale belang.
In Suid-Afrika raak die lewe op die platteland al hoe taaier en “ons besef dat die aanslag op ons boere en natuurbewaarders groot is en dat die uitdagings nie klein is nie. Behoeftige studente wie se ouers aangeraak word deur rampe en plaasellendes soos aanvalle, droogtes, brande en siektes word meer en die kans om universiteit toe gestuur te word, al hoe skraler,” sê Zander Botha, Helpende Hand se fondsbestuurder van hul studiefondssentrum.
“Ons het besluit dat ons hierdie helde wil help omdat ons hulle vir die toekoms benodig. Ons wil seker maak dat studiekostes nie nog ’n uitdaging vir hulle is nie. Daarom het ons besluit om ’n studiefonds te stig waar donateurs en die gemeenskap ’n bydrae kan maak, om sodoende behoeftige studente te befonds wat graag in ’n landbou of natuurbewaring rigting wil studeer”
Derhalwe is die, Hier sal ek boerveldtog van stapel gestuur, “want Helpende Hand Studietrust droom om behoeftige studente se studiedrome te bewaarheid. Ons glo opleiding is die pad na ’n beter en sterker toekoms,” sê Botha.
Die ander rede waarom Helpende Hand op landbou fokus is omdat die bedryf teen ’n geweldige tempo tegnologies ontwikkel en ekonomies groei. Dit is dus noodsaaklik om hierdie bedryf met genoegsame kennis en geleerdheid aan te pak.
Om te bepaal of dié studente wat vir die beurs aansoek doen, wel hulle studies ernstig gaan opneem, verduidelik Botha dat hulle ʼn goeie siftingsproses in plek het. ”Ons het ’n betroubare platform in plek waarop behoeftige studente aansoek kan doen, en hierdie studente word dan oorweeg volgens kriteria wat deur ’n studiefondskomitee gevolg word.
“Met ʼn volgende kriteriastelsel maak ons seker dat die mees verdienstelike en behoeftige studente hierdie lening ontvang. Een belangrike faktor is dat hulle op skool, asook tydens hulle studies, akademies moet presteer.
“Hierdie platform bied ook die geleentheid vir die gemeenskap om eenmalige, maandelikse of jaarlikse skenkings te maak. Dan bied ons ook ʼn opsie vir die gemeenskap om ’n deel van hulle testament aan die studietrust te bemaak. Ons stuur ook verskeie projekte en veldtogte van stapel om fondse in te samel.”
Helpende Hand se naam loop hulle vooruit en Botha sê hulle is baie bevoorreg om ’n paar sterk en lojale donateurs te hê, maar die, Hier sal ek boerprojek benodig nuwe donateurs om die volhoubaarheid van hierdie studiefonds te verseker, om sodoende honderde studente oor die volgende paar jare uit hierdie fonds
te kan help.”
Botha sê studiekostes is nie goedkoop nie. Die koste van een student wat wil Landbou studeer beloop ongeveer R52 000 per jaar. Dit is slegs vir klasgelde. Ons het in 2021 om en by R1,25 miljoen geallokeer aan studente wat in ’n Landbou rigting, Natuurbewaring of Veeartseny rigting studeer het en wil graag in 2022 hierdie bedrag verdubbel na ongeveer R2,5 miljoen om meer behoeftige studente te help wat ’n passie vir hierdie bedryf het. Om dit moontlik te maak het ons ’n helpende hand van die gemeenskap nodig.”
Vir meer inligting oor die veldtog kan hul webtuiste besoek word, of skakel Zander Botha by 083 254 0142.