Hoe pas ek bosluisbeheer toe?

Hoe pas ek bosluisbeheer toe?

Reading time
Image Tick on Purple Gemstone by Erik Karits
Image Tick on Purple Gemstone by Erik Karits
BOERhier is a Social Media success story! BOERhier started in June 2017 as an electronic magazine that distributes practical farming ideas, statistics and inspiration about agriculture to farmers. In just 4 years, the popularity of BOERhier has been overwhelming and many readers have insisted on an English version.

Bosluisbeheer

Dr JG Nel
Consulting Veterinarian – Kyron Agri

Daar is baie bosluisspesies wat in Suid-Afrika voorkom. Ons klassifiseer hulle breedweg as óf harde- (ixodid) óf sagte- (argasid) bosluise. Die harde bosluise kan ook breedweg geklassifiseer word as eengasheerbosluise of multigasheerbosluise. Tipiese een gasheerbosluise sluit die Afrika-bloubosluis (Rhipicephalus (Boophilus) decoloratus) en die Pantropiese bloubosluis (Rhipicephalus (Boophilus) microplus) in. Meergasheerbosluise wat algemeen voorkom sluit die Bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus), die Bontpootbosluis (Hyalomma truncatum), die Bontbosluis (Amblyomma hebraeum), die Rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi) evertsi) en die Karooverlammingsbosluis (Ixodes rubicundes) in. Die twee sagte bosluise wat vir herkouers van belang is, sluit die sandtampan (Ornithodorus savignyi) en die stekelrige oorbosluis (Otobius megnini) in.

 

Die lewensiklus van bloubosluise is baie kort en die ontwikkeling vanaf die eierstadium tot die larf-, nimf- en volwasse stadium, wat op een gasheer voorkom, kan so kort as 21 dae wees. Die volgesuigde bosluiswyfie lê ook tussen 1000-2500 eiers wat binne 3-6 weke sal uitbroei waarna die onvolwasse larwestadia sal wag om aan ’n gasheer te heg. Die getalle en bosluislading van bloubosluise kan dus baie vinnig en eksponensieel toeneem wat ernstige bosluislaste tot gevolg kan hê. Bloubosluisgetalle begin toeneem vanaf die lente en bereik piekvlakke gedurende die laat somer en herfs. Die lewensiklus van meergasheerbosluise neem oor die algemeen ’n langer tyd om te voltooi (6 maande tot etlike jare) omdat die verskillende stadiums op veelvuldige gashere sal klim en ontwikkel. Die wyfiebosluis lê ook ’n groot bondel eiers. Die getalle meergasheerbosluise begin oor die algemeen ’n bietjie later toeneem vanaf die begin van die somer en sal ook gedurende die herfsmaande ’n hoogtepunt bereik. Die getalle meergasheerbosluise kan ook aansienlik toeneem, en hoë bosluislaste kan bereik word.

Al hierdie bosluise het spesifieke voorkeurplekke om aan te heg op die diere. Die bloubosluise word byvoorbeeld algemeen oral op die liggaam aangetref, terwyl die bruinoorbosluise hoofsaaklik aan die ore van beeste heg. Bontbosluise en bontpootbosluise word gewoonlik aangetref op die bors, ventrale buik, spene, uiers en testes en om die anus. Bontbosluise en Bontpootbosluise heg ook tussen die kloue van kleinvee vas. As gevolg van hierdie bosluise se lang monddele kan hulle wonde, absesvorming en mankheid veroorsaak. Die identifisering van die bosluisspesies en die hul aanhegtingsplek is van belang om ’n geskikte bosluisbeheerstrategie te ontwikkel en te implementeer.

Afgesien van die oordrag van bosluisgedraagde siektes, veroorsaak bosluise indirekte produksieverliese deur verminderde gewigstoename, bloedverlies, wonde, absesvorming, sekondêre brommerbesmetting, mankheid, skade aan huide en verlaagde vrugbaarheid.

 

Beheermetodes:

Verskeie bosluisbeheermetodes en strategieë kan gebruik word om die negatiewe effek van bosluise te verminder. Aangesien die klimaats- en omgewingstoestande (topografie, habitat, fauna en flora) op elke plaas uniek is, sal elke plaas ’n unieke bosluisbeheerstrategie en spesifieke bosluisbeheerintervalle hê. Bosluisbeheermetodes wat gebruik kan word sluit dompeldip, spuitgang, rugsakbespuiting, opgietmiddels en inspuitbare oplossings in.

Die gebruik van dompeldip en spuitgange is baie effektiewe en kostedoeltreffende metodes om bosluise te beheer. Hierdie twee

metodes vereis genoeg water en toepaslike infrastruktuur, bestuur en instandhouding om optimale doeltreffendheid te verseker. Die gebruik van ’n rugsakspuit is een van die mees kostedoeltreffende metodes om bosluise te beheer en kan veral gebruik word wanneer dit slegs nodig is om kolbehandeling te doen om die spesifieke aanhegtingsplekke van spesifieke bosluise te teiken. Maar hierdie metode kan ook gebruik word om die hele liggaam van die dier te behandel indien nodig. Die opgietmetode is ’n baie gerieflike metode om te gebruik om bosluise te beheer, veral waar baie diere behandel moet word en waar die nodige infrastruktuur en hulpbronne nie in plek is om dompeldip of spuitgange toe te laat nie. Inspuitbare oplossings is ook ’n baie gerieflike metode om bloubosluise te beheer. Langwerkende oplossings is beskikbaar wat kan help om bosluise vir langer periodes te beheer.

Daar is slegs ’n paar aktiewe bestanddele wat beskikbaar is om bosluise te beheer. Bosluisweerstand teen hierdie aktiewe bestandele is reeds wêreldwyd ’n ernstige probleem. Die korrekte strategie en verantwoordelike gebruik van hierdie dipmiddels word dus aangeraai om bosluisweerstand te voorkom.

 

Deel hierdie artikel

Sluit aan by BOERhier!