Bestuur en voeding van die ooi kudde tydens dragtigheid
Deur Zanmari Crous
Goeie bestuur van jou ooi kudde tydens dragtigheid is van kardinale belang om ’n goeie lammeroes te verseker en lammers met optimale wolproduksie te produseer.
Vroeë en middragtigheid
Sodra die ramme uitgehaal is moet die ooie so min as moontlik hanteer word om te verseker dat die plasenta goed ontwikkel en fetusaanhegting kan plaasvind. Die doelwit tydens vroeë en middragtigheid is dus om maksimum fetusoorlewing te verseker. ’n Goed ontwikkelde plasenta sal ook tot goeie uierontwikkling lei, later in die reproduksiesiklus. Dragtigheisondersoeke kan met behulp van sonarskandering gedoen word op 42 dae. Met ’n besetting van 80% en hoër kan die droë (nie-dragtige) ooie geprul word. Die ooie moet in hul paringskondisie gehou word. ’n Massaverlies kan lei tot resorpsie van die fetus. Tussen dag 30 en 90 word die ontwikkeling en grootte van die plasenta bepaal. Estradiol word afgeskei deur die plasenta en dit berei die uier voor en melkklierontwikkeling vind plaas. Hoe beter die ontwikkeling, hoe beter die melkproduksie van die ooi na lam. Swak voeding tydens middragtigheid en swak plasenta ontwikkeling kan nie later reggestel word nie.
Laatdragtigheid
Laatdragtigheid is tydens dag 90-150 en die doelwit is om ooie voor te berei vir goeie biesmelk produksie wat sal bydra tot maksimum lamoorlewing en lamgroei. Die ooie moet dus in ’n kondisiepunt van minstens 3 tot 3.5 wees. Oorvet ooie kan probleme tydens die lamproses ervaar. Te maer ooie, se melkproduksie gaan onvoldoende wees en lei tot lammers wat vrek of wat gehelp moet word met byvoeding en dan hanslammers word.
Die geboortemassa, lamoorlewing en die lam se wolproduksie word bepaal deur die ooi se kondisie tydens laatdragtigheid en lamtyd. Die toekomstige wolproduksie van ’n lam word beïnvloed deur die lam se voeding van sy moeder tydens laatdragtigheid. Die primêre wolfollikels (sterk vesels) se ontwikkeling gebeur tydens laat dragtigheid (dag 60-90). Die sekondêre follikels (fyn vesels) ontwikkel vanaf dag 90. Die fyn vesels is die wolfabriek en dus die belangrikste vir wolproduksie. Die follikels se digtheid word ook tydens die periode vasgelê en kan nooit weer in die skaap se leeftyd verander of verbeter word nie. Die sekondêre follikels dra by tot die digtheid en fynheid van die wol in die vel. ’n Fyner wol word geproduseer, hoe hoër die digtheid van die sekondêre follikels.
’n Swak gevoerde of ’n ooi in ’n swak kondisie kan nooit die agterstand opvang na sy gelam het nie en daarom is laatdragtigheid voeding baie belangrik. Nie net vir die lammeroes nie maar ook vir wolproduksie van jou toekomstige kudde.
Lammers groei 70% van hul geboorte massa in die laaste ses weke van dragtigheid. Dit is dus belangrik om ooie byvoeding te gee sodat sy nie kondisie verloor nie en dat die lam kan groei. Ooie met eenlinge moet 150g – 250g/dag byvoeding gevoer word en ooie met meerlinge kan 250g tot 350g/dag gevoer word. Byvoeding met goeie verbyvloeiproteien sal bydra tot maksimale uierontwikkeling voor lam en goeie melkproduksie na lam.
Predasiebeheer
Predasiebeheer moet opgeskerp word voor die ooie begin lam. Gaan die kamp se drade na en maak seker ongediertes kan nie inkom en die ooie kom pla terwyl hulle lam of lammers vang en vreet nie.
Inentings
Die lam se oorlewing is afhanklik van teenliggame vanaf die ooi in sy eerste 6-12 weke. Goeie biesmelk is dan van kardinale belang vir beskerming van die lam teen dodelike siektes.
Die ooie moet dus maksimum teenliggaam produksie handhaaf. Die ooie kan 6 weke voor lam geënt word met ’n produk wat ent teen klostridiale siektes en longkwale. Die ooie kan ook met ’n breë spektrum wurmiddel ontwurm word.
’n Goeie lammeroes en jou toekomstige wolproduksie word dus tydens dragtigheid bepaal en die ooie moet mooi na gekyk word. Weeklikse ondersoeke van die ooie se kondisie en voerbronne beskikbaar, sal jou ’n goeie idee gee van wat in die kudde aangaan en wat nodig is. Lamtyd sal dan ’n goeie tyd van die jaar vir jou en jou ooie wees.