Die KalahariKaroo Groep bestaan uit twee lede uit die Kalahari, Chris Potgieter en Riaan Liebenberg en twee lede uit die Karoo, Tommy Bissett en Jean du Plessis. Gemeenskaplike belange soos om ekstensief met Meatmasters te boer, liefde vir diere en mense in die algemeen en ook die bevordering van die Meatmaster ras het die manne bymekaar gebring. Aanvanklik het ons jaarliks net een veiling in Upington gehou. Namate almal se kwaliteit verbeter het en daar meer skape aan die vereistes voldoen het, het ons besluit om meer veilings per jaar op verskillende plekke te hou. Ons het dit verkies eerder as dat elkeen sy eie veiling jaarliks sou hou. Behalwe vir die veilings, hou ons ook gereeld inligtingdae, besoek medetelers en ons help ook mekaar met seleksie en evaluering van ons eie skape.
Ons is 100% toegewyd tot die teel van hoë kwaliteit Meatmasters en poog om slegs diere aan die mark beskikbaar te stel wat die ras tot voordeel sal strek.
Hoekom boer ons met die Meatmaster
Toe ons in die vroeë 90’s die Damara met die Dorper begin kruis het, het ons dit uitsluitlik gedoen om geharde ooie te teel wat vir ons aanvaarbare slaglammers kan produseer. Die gewildheid van hierdie kruising het vinnig in die ekstensiewe droë dele toegeneem. Baie mense het gevra, hoekom nog ’n ras ontwikkel as daar alreeds soveel geharde en vrugbare rasse is. Die Meatmaster is egter uniek in die opsig dat hulle nie net vrugbaar en gehard is nie, maar ook slaglammers produseer wat aanvaarbaar is vir slagpales en ook ander kliënte.
In ons omgewing het die Meatmaster homself weereens bewys as die ras wat droogtes kan trotseer. Nie alleen het ons skape hierdie droogte oorleef nie, maar ook aanhou produseer. Indien ooie se kondisie vlakke te ver val, sal hulle nie bronstig raak nie en dus ophou om te produseer. Dit beteken dat ooie in ons omgewing tot 2-3 maande na goeie reëns eers weer op hitte kom. Dit beteken dat jy vir ongeveer 13 maande geen inkomste sal hê nie. Die vraag is, wie kan dit bekostig? Meatmasters bly egter produseer onder baie moeilike omstandighede. Ons het ook deurgangs tydens die droogte lammers vanaf die veld met slegs geringe byvoeding geslag. Die droogte kan ons beskryf as Meatmaster weer, want ons het nog nooit soveel navrae gehad vir ramme soveel as ooie soos tydens hierdie droogte nie. Dit is nou drie weke nadat dit gereën het en ek is verstom oor die vermoë wat hulle beskik om te kan herstel asof daar glad nie ’n droogte was nie. Dit alles het ons verwag, wat ons egter nie verwag het toe ons met die Meatmasters begin boer het, was dat die ras regoor die land sou begin floreer nie. Ons het eindlik die Damara onderskat en nie besef watter bydra sy eiensappe sou maak tot die gewildheid van die ras nie. Mens sien nou dat boere in die tradisionele beesdele met hulle begin boer a.g.v. hulle onselektiewe vreetgewoontes en dus nie sukkel om daar aan te pas nie. Meatmasters is bekend daarvoor dat hulle blaarvreters is, ’n eienskap wat hulle van die Damara erf, daarom sien mens hulle ook in die boomryke en bosagtige dele. Daar word ook met hulle onder besproëing en in dele met hoë reënval geboer. Ons het gou besef aangesien die gewidheid van die ras oor die hele land begin pos vat en dat daar nou verskillende boerdery praktyke is en dat die rasstandaard van die Meatmaster genootskap n wye verskeidenheid tipes sal moet toelaat. Van die meer bonkige, swaarder bespierde tot hoër op die been (9meer rankerige tipe). Ons het die tipes in die volgende groepe geklassifiseer nl:
- All-Rounder: Tipies van die ras, met net genoeg van alles (middle of the road)
- All-Rounder Afrikanus: Baie tipies, effens later ryp.
- All-Rounder Europees: Baie tipies, vroeër ryp, meer bespierd.
- Afrikanus: Laat ryp
- Europees: Vroeg ryp
Ons verwys na die vetter tipe(nat) vir die baie droë dele en die maerder tipe vir dele waar die reënval hoër is. Funksionele doeltreffendheid en vrugbaarheid is die wagwoord. Die “middle of the road tipe” is die ideale tipe waarna die genootskap strewe. Ons is bewus en bedag daarop wat die gevolge kan wees indien daar vir die verkeerde tipe geselekteer gaan word. Die Meatmaster is werklik die ras vir Afrika. Geld uit die veld is nogsteeds waar, maar die Meatmaster is nou veel meer as net dit. Veelsydigheid is defnitief die term waarmee ek die Meatmaster wil beskryf. Die ras om mee te boer: “From Cape to Kairo Ons wil vir elkeen bedank wat ons in 2021 ondersteun het. ’n Geseënde Kersfees en ’n Voorspoedige 2022 vir almal.