Produsente sny insetkoste met miljoene danksy omvattende oplossing vir volhoubaarheid

Produsente sny insetkoste met miljoene danksy omvattende oplossing vir volhoubaarheid

Reading time
Photo provided by ProAgri
Photo provided by ProAgri
BOERhier is a Social Media success story! BOERhier started in June 2017 as an electronic magazine that distributes practical farming ideas, statistics and inspiration about agriculture to farmers. In just 4 years, the popularity of BOERhier has been overwhelming and many readers have insisted on an English version.

Produsente sny insetkoste met miljoene danksy omvattende oplossing vir volhoubaarheid

Oor die afgelope drie somerreënvalseisoene het ’n innoverende alliansie produsente toegang tot volhoubare gewasoplossings, tegniese kundigheid en uiters voordelige kommersiële aanbiedinge gegee. In die proses is deelnemende produsente se gesamentlike insetkoste met amper R13 miljoen gesny.

Vir alle produsente – groot en klein en in alle sektore van die landbou – bly toegang tot finansiering ’n uitdaging. Stygende rentekoerse en die probleme waarin die Landbank tans gewikkel is, dra verder hiertoe by.

As leiers in die landbou van wie verwag word om toekomstige uitdagings te voorspel en vroegtydig aan te spreek, het die Kragspan vennote reeds in 2018 begin werk aan ’n alliansiemodel om produsente se volhoubaarheid ’n hupstoot te gee.

Johan Nienaber, Streeksdirekteur (Noord) van InteliGro, verduidelik dat Die Kragspan alliansie tussen InteliGro en VKB se mandaat is om hulpbronne kollektief aan te wend om produsente se insetkoste te minimiseer, en ook om die kwaliteit en kwantiteit van hul uitsette te optimaliseer deur tegniese kundigheid. “Produsente wil nie net die resultate in hul lande sien nie, maar ook in hul bankrekeninge,” merk Nienaber tereg op.

Die Kragspan se kommersiële aanbieding gee hierdie einste bankrekeninge ’n blaaskans regdeur die seisoen, verduidelik Bertie Smith, Uitvoerende Direkteur van VKB. “Die 0% toeslagkomponent, 0.5% korting op Multigreen kunsmis en 1% korting op Dekalb saad, 3% afslag op InteliGro gewasoplossings, asook ’n periode van tot ses maande waar geen rente op produsente se VKB-rekeninge gehef word nie, is slegs moontlik omdat ons verskaffervennote Die Kragspan so heelhartig ondersteun.” Danksy hierdie ondersteuning, kon Die Kragspan produsente gesamentlik R7.1 miljoen op insetkoste spaar in die 2021/ 2022-seisoen. “Dit ondersteun die inisiatief om produsente se volhoubaarheid kollektief en daadwerklik aan te spreek,” voeg Nienaber by.

Die Kragspan se kommersiële aanbieding word elke jaar nuut saamgestel om by die veranderende behoeftes van die produsent aan te pas. In die eerste twee seisoene was dit net op somerrygewasse van toepassing. In 2021/2022 het aartappels bygekom en vir die seisoen wat voorlê, word die aanbieding na kern- en steenvrugte uitgebrei. Die uitgestelde terme word ook saamgestel om produsente se aankooppatrone te ondersteun. Rygewasse, byvoorbeeld, se fisiologiese ontwikkeling vereis drie rondtes van gewasoplossingaankope, terwyl aartappels sowel as kern- en steenvrugte deurlopend teen peste en plae beskerm moet word.

Laasgenoemde se uitgestelde terme is maksimum 120 dae, terwyl rente op rygewasaankope met tot ses maande uitgestel kan word.

Volgens Nienaber is Die Kragspan se aanbieding geskoei op die konsep van vertroude besigheidsvennote wat produsente op alle fronte ondersteun. “In terme van tegniese ondersteuning, het produsente toegang tot opleiding, betroubare data op peste en plae, spuitklinieke en gewasoplossingproewe. Die doel is om produsente in staat te stel om die beste moontlike besluite saam met hul vertroude besigheidsvennote te neem. Sodoende word opbrengskwaliteit en -kwantiteit verbeter, asook winsgewendheid en omgewingsvriendelike boerderypraktyke.”

Die Kragspan se net word wyd gespan, beklemtoon Smith. “Die Kragspan het uit die staanspoort verseker dat ons aanbieding relevant sal wees vir alle produsente in ons netwerk. Inklusiwiteit is die alliansie se wagwoord, want slegs deur inklusief te wees kan mens werklik voedselsekuriteit en produsente se volhoubaarheid bevorder.”

Die Kragspan het relatief klein begin, maar groei voortdurend na aanleiding van produsente se behoeftes. Afgesien van die uitbreiding na kern- en steenvrugte, is die volgende stap om op produsente in Limpopo te fokus. “Ons beplan om vier areas in Limpopo te identifiseer en werklik te gaan luister na wat produsente se behoeftes is,” sê Nienaber.

“Ons wil verstaan hoe Die Kragspan se aanbieding aangepas moet word om aan die sitrus-, tabak-, tafeldruif- en groenteprodusente se behoeftes te voldoen, hetsy in terme van finansiering, tegniese kundigheid of voordelige kommersiële aanbiedings op gewasoplossings.”

Laasgenoemde is ’n strategiese stap vir VKB wat tradisioneel in die Vrystaat besigheid doen. “Ons het besluit dat groei in uitbreiding na ander provinsies lê, asook in groter betrokkenheid in gewasoplossings,” sê Smith.

“Die alliansie met InteliGro is die ideale voertuig vir beide doelwitte, asook ’n manier waarop ons erkenning kan gee aan plaaslike produsente as produseerders van voedsel, rentmeesters van die grond en sakemanne en -vroue.”

En die beste nuus is dat landbou en voedsel-sekuriteit in Suid-Afrika by verre die meeste voordeel uit hierdie kreatiewe benadering trek.

Bron: Produsente sny insetkoste met miljoene danksy omvattende oplossing vir volhoubaarheid – ProAgri

Deel hierdie artikel

Sluit aan by BOERhier!