Wat is die algemene siektes en behandeling vir beeste in Somer/Herfs?

Wat is die algemene siektes en behandeling vir beeste in Somer/Herfs?

Reading time
Image Mooi beeste by Affieplaas Fotografie
Image Mooi beeste by Affieplaas Fotografie
BOERhier is a Social Media success story! BOERhier started in June 2017 as an electronic magazine that distributes practical farming ideas, statistics and inspiration about agriculture to farmers. In just 4 years, the popularity of BOERhier has been overwhelming and many readers have insisted on an English version.

Algemene siektes en behandeling by beeste in Somer/Herfs

Zanmari Crous

Goeie somer reën het geval, die veld lyk mooi en die diere is rond en gesond. Daar is tog heelwat siektes wat voorkom onder die beeste. Volg die reeks artikels waar daar na elke seisoen gekyk gaan word en op watter siektes aandag geskenk kan word.

Insek oordraagbare siektes

 

Drie dae stywe siek

Simptome

Die virus word deur bytende insekte oorgedra. Alle ouderdomme diere is ewe vatbaar, maar swaar bulle en koeie wys die duidelikste simptome. Diere lê baie, bewe as hulle staan en loop met stywe ledemate. Dikwels is daar helder neusafskeiding en speekselvloei. Die mis is dikwels slymerig en bevat soms bloed. In baie swaar bulle kan die simptome skielik en baie dramaties wees. Asemhaling is vinnig en in uitsonderlike gevalle kan daar sponserige swelsels oor die bors verskyn wat onderskei moet word van sponssiekteletsels. Koeie droog dikwels op.

Behandeling

Antibiotika en pynstillers en algemene versorging van diere wat lê.

Voorkoming

Ent bulle en melkkoeie jaarliks.

 

Knopvelsiekte

Simptome

Word vermoedelik deur bytende insekte oorgedra, maar die speeksel van besmette diere is ook aansteeklik en kan met drinkwater oorgedra word. Aanvanklik wys diere speekselvloei, neusafskeiding en mankheid wat nie juis die eienaar opval nie. ’n Week later begin opvallende knoppe egter regoor die lyf uitslaan. Die knoppe wissel van 1 to 4 cm in deursnit en kan of vanself verdwyn of die vel sterf af en laat redelike diep sere wat ’n geruime tyd neem om te genees. In erge gevalle word moeilike asemhaling ondervind a.g.v. letsels in die lugpyp. Letsels kan ook in die dermkanaal ontstaan.

Behandeling

Antibiotika teen sekondêre infeksie van die vel. Indien die dooie vel begin losgaan, moet gewaak word teen maaiers. Diere wat baie moeilik asemhaal staan ’n goeie kans om te vrek.

Voorkoming

Kalwers kan op 6 maande daarteen geënt word en dan jaarliks daarna.

Slenkdalkoors

Simptome

Slenkdalkoors word veroorsaak deur ’n virus wat deur muskiete aan beeste en skape oorgedra word. Die siekte kom tipies na goeie reënjare voor en veroorsaak dikwels grootskaalse vrektes, veral onder jong diere. Die siekte tas mense ook aan, maar word aan mense oorgedra deur kontak met siek diere of vars karkasse en nie deur muskietbyte nie. In jong diere word akute vrektes waargeneem. Siek diere wys buikpyn, geelsug en soms diarree. ’n Baie hoë koors wat min op koorswerende middels reageer is ook tipies (41-42 grade C). Aborsie is ’n verdere komplikasie wat baie algemeen voorkom: die fetusse is gewoonlik in ’n gevorderde staat van ontbinding.

Behandeling

Omdat ons hier met ’n virussiekte te doen het, is daar geen spesifieke behandeling nie. Siek diere moet so min moontlik hanteer word om oordrag na die mens te voorkom. Sorg moet veral gedra word wanneer nadoodse ondersoeke op vars karkasmateriaal gedoen word. Koorswerende middels mag wel help om minder ernstige gevalle vroeër aan die vreet te kry.

Voorkoming

Daar is drie entstowwe beskikbaar vanaf Onderstepoort Biologiese Produkte. Die lewendige Slenkdalkoorsentstof word normaalweg aan skape toegedien. Aangesien die entstof aborsies mag veroorsaak, word dit nie aan dragtige diere toegedien nie. Die geïnaktiveerde entstof word gewoonlik in beeste en dragtige skape gebruik. Dit gee egter nie so ’n goeie immuunrespons soos die lewendige entstof nie en moet derhalwe jaarliks herhaal word. Met die uitbraak van Maart 2010 is daar egter ’n geweldige aanvraag na die geïnaktiveerde entstof en word al die beskikbare dosisse aangewend in die areas deur die uitbraak geraak. Die nuutste entstof word Clone 13 genoem en is ’n lewende entstof wat volgens Onderstepoort veilig is in dragtige diere.

Dit is belangrik om diere weg te hou van panne en vleie om blootstelling aan die muskiete te verhoed. Vliegwerende dipstowwe soos dié wat deltametrien en sipermetrien bevat kan gebruik word om muskiete van die diere te weer.

 

Bosluisoordraagbare Bloedparasiet siektes

Rooiwater (Afrika en Asiaties)

Simptome

Bees het ’n hoë koors, rooierige of bruin uriene, bleek/geel slymvliese, vinnige vlak asemhaling, pap  miskoeke dikwels baie geel. Daar is ’n tipe rooiwaterorganisme wat senuweesimptome baie soos die van hartwater veroorsaak. Dit word Europese rooiwater genoem en die organismes word dan in rooibloedselle in die brein gesien.

Die siekte word deur die bloubosluis oorgedra.

Behandeling

Berenil, Dimisol, Reverin of Forray 65, vit B-kompleks, lewerondersteuningsmiddels.

Voorkoming

Diere vanuit areas waar rooiwater nie voorkom nie kan geënt word. Daar moet gewaak word daarteen om diere in gebiede waar die siekte wel voorkom, nie te skoon van bosluise te hou nie. Diere kan hul weerstand binne ’n paar maande verloor. Kalwers het ’n natuurlike weerstand tot ongeveer ses maande oud en raak meestal immuun in gebiede waar die siekte voorkom, maar in uitsonderlike gevalle kan jong kalwers tog siek word.

 

Galsiek

Simptome

Wisselende koors, bleek/geel slymvliese, droë mis, uriene baie geel. Die bloubosluis dra beide soorte galkoorsorganismes oor.

Behandeling

Tetrasikliene (dubbel dosis), Doksisiklien, Forray 65. Lewerondersteuning. Rumenondersteuning

Voorkoming

Dieselfde as rooiwater

Bogenoemde is van die mees algemene en belangrikste siektes om van kennis te neem vir die spesifieke tyd van die jaar. Raadpleeg u veearts vir inligting rondom spesifieke siektes in u gebied.

Deel hierdie artikel

Sluit aan by BOERhier!