FARMhere Logo
Search
Close this search box.

Wat is die herkoms van hoenders?

Wat is die herkoms van hoenders?

Reading time
Image Brown and Black Hen With Peep of Chick Outdoor by Quang Nguyen Vinh
Image Brown and Black Hen With Peep of Chick Outdoor by Quang Nguyen Vinh
BOERhier is a Social Media success story! BOERhier started in June 2017 as an electronic magazine that distributes practical farming ideas, statistics and inspiration about agriculture to farmers. In just 4 years, the popularity of BOERhier has been overwhelming and many readers have insisted on an English version.

Herkoms van hoenders

die stemmige nasate

van die wilde stamvader uit die bos

 

Een van die koddigste wolhaar-legendes in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is dié van ’n mak bobbejaan wat êrens op ’n boereplaas in ’n kranige bokwagter sou ontwikkel het. Nog ’n bogstorie is die verhaal van die afkop hoender.

 

Daar is ’n klompie geslagte gelede nogal meermale vir die reine waarheid vertel dat iemand ’n haan se kop met ’n byl afgekap het, maar dat die voël hierdie tradisionele soort onthoofding oorlewe het deurdat die bloeding deur sy nek op ’n manier gestop is. Die hoender sou nog geruime tyd daarna op die werf rondgestap en selfs op ’n manier alte grillig deur sy nek gekraai het.

Ag, gaan vertel dit aan die hoenders, sal die meeste mense vandag ewe goedig wil terugkap as iemand hulle só ’n verspotte ding oor ’n kraaiende koplose kiepie sou probeer wysmaak!

Daarteenoor sal niemand kan sê jy praat self deur jou nek as jy ons hoenders se herkoms vir hom uitlê en by ’n wilde rooi boshoender as die stamvader uitkom nie. Kenners reken naamlik dis waar al die mak hoenderrasse vandaan kom wat nou die aarde van hoek tot kant beskrop en alle landstreke buiten die koudstes bewandel.

Wat dit egter des te interessanter maak, is dat die einste rooi boshoender, Gallus gallus, nie uitgesterf het nie, maar vandag nog lewe. En dít duisende jare nadat sy nasate werfvoëls by die mens geword het. Daar is nie baie wilde voorsate van makgemaakte diere waarvan dieselfde gesê kan word nie.

Die rooi boshoender se oorspronklike hougebied is die tropiese en subtropiese woude van Indië, Pakistan en Suidoos-Asië. Die talle hoenderrasse wat uit hom voortgekom het, is ’n vandag ’n bonte menigte wat wissel van veerpoot-kapokkies tot die statigste rooi, swart, wit of gespikkelde pluimvee. Amerika se Rhode Island Reds, Plymouth Rocks, Dominiques, Wyandottes, Chantecler, Buckeyes, Jersey Giants, Lamonas, New Hampshires, Hollands en Delawares; Asië se Brahmas, Cochins en Langshans; Engeland se Dorkings, Redcaps, Cornish, Orpingtons en Sussex; Australië se Australorps; die Mediterreense wêreld se Leghorns en nog wat – hulle is maar net ’n aantal van die lede van die magtige hoenderfamilie.

Daar word gereken dat mense sowat 5 000 jaar gelede hoenders in Indië begin aanhou het en toe omtrent 3 500 jaar gelede in China. Hoenderbene is ook al in baie ou Egiptiese grafkelders gevind.

Met verloop van die millenniums het die kekkelaars en kraaiers egter so goed as regoor die wêreld versprei – tot waar hulle vandag die volopste voëls op ons planeet is. Volgens een gesaghebbende bron was hul totale populasie betreklik onlangs nie minder nie as 24 miljard (24 000 miljoen). In 2004 is 8 900 miljoen hoenders net in Amerika geslag.

Maar daar is natuurlik baie goeie redes hoekom die hoender ook wêreldwyd so gewild is. Om mee te begin hou mense hulle graag aan om omdat hulle so goedkoop is – jy het immers nie ’n plaas se geld nodig om ’n troppie hoenders aan te skaf nie. Boonop kos hulle ’n mens weinig meer om te onderhou (indien jy dit self nie breed het nie) as ’n paar van jou ou broodkorsies en jou oorskiet-graanpap.

En nadat jy ’n hoender geslag het, kan jy die hele ding in een nag opeet. Dis nie nodig om jou te bekommer oor vleis wat kan bederf omdat daar geen yskas is waarin dit bewaar kan word nie.

Om nie eens te praat van die eiers waarmee ’n klompie henne ’n mensegesin regdeur die jaar van voedsame ontbyte kan voorsien nie.

Ook wetenskaplike navorsers is gek na hoenders omdat hulle sulke wonderlike gewerwelde diere is. Vir die embrioloë, byvoorbeeld, is hulle fassinerend omdat hulle binne-in ’n eier ontwikkel pleks van in ’n ma se uterus. Hulle is boonop belangrik vir navorsing in verband met virusse en kanker.

Hoenders is omnivore (plant- sowel as vleisvreters) wat enigiets sal verorber van saadjies, blare, maaiers en insekte tot selfs klein soogdiertjies soos muise, as hulle hul snawels op dié kan lê. Hoenderboere in ontwikkelde gemeenskappe wat dit kan bekostig, voer hul gemeste voëls spesiale kosse van proteïene sowel as graan.

Hulle is inderdaad “maklike” diere, maar soms is maatreëls darem ook nodig om die hoenderspesie vas te vat. Hoewel hulle nie ver kan vlieg nie, kan heinings en kampdrade hulle nie altyd inperk nie, met die gevolg dat die veerpunte van een vlerk baiemaal afgeknip word. Dit veroorsaak dat hulle ongebalanseerd vlieg en nie ver in die lug kan vorder nie.

Hoenderboere weet ook dat hulle tropdiere is met ’n definitiewe rangorde in hul hoendergemeenskap. Dominante enkelinge eien vir hulle die voorste plekke by die kosbak toe en die beste plekke om nes te maak. As hane of henne uit ’n kamp verwyder word, is daar ’n tydelike sosiale ontwrigting totdat ’n nuwe rangorde gevestig is.

Henne kan bevrugte of onvrugbare eiers lê. Hulle kan dag ná dag hul kosbare, ovale produkte deponeer, selfs sonder dat ’n enkele haan aanwesig is, maar dié eiers is dan net windeiers, soos die ou mense dit genoem het. Daar is nietemin geen verskil tussen die voedingswaarde van ’n bevrugte of onbevrugte eier nie.

Op henne wat “broeis” raak (ophou eiers lê en vas op eiers begin sit) wag ’n broeityd van gemiddeld 21 dae en daarna nog ’n versorgingstydjie wanneer hulle moederlik om die kuikentjies sal kloek.

Kuikens word vandag egter ook dikwels deur broeimasjiene uitgebroei en die jong hoenders by die honderde in sogenaamde batterye ingehok en vetgevoer tot die dag wanneer hulle geslag word. Die laasgenoemde is ’n onnatuurlike praktyk waarteen baie diereliefhebbers reeds lankal in opstand is, hoewel batteryhoenderboere weer volhou dat hul voëls glad nie mishandel word nie.

Ten slotte moet ’n mens darem ook verwys na die groot indruk wat die hoender op ons landelike voorsate gemaak het. Ons taal is naamlik deurspek met idiome wat met die hoender te doen het, party begrypliker as ander as jy die uitdrukkings ontleed.

As jy vroeg inkruip, is dit duidelik waarom gesê word dat jy met die hoenders gaan slaap, maar waarom sou ’n dronk mens dan nou hoenderkop of in die hoenderhemel wees? En vir wat is jy die hoenders in as iemand jou kwaad maak? Hoekom ervaar jy dan geen woede wat jou na die ganse of die kalkoene dryf nie?

Bron: http://www.mieliestronk.com/hoenders.htm

Deel hierdie artikel

Latest News

Ad display

Sluit aan by BOERhier!