Die meeste peste floreer tydens warm en droë toestande. Die optimum temperature waarbinne die meeste sleutelpeste gewoonlik die meeste skade aanrig wissel tussen 23 en 33 °C. Daar is egter ‘n paar peste wat aangepas is by lae temperature, en wat dus wintergewasse verkies. Hierdie peste verhoog hul metablosime wanneer die temperatuur daal, terwyl voeding tydens die warm maande totaal gestaak word. Na laasgenoemde verskynsel kan verwys word as “oorsomering” (aestivation in Engels). Die term “oorwinter” word gebruik vir die teenoorgestelde verskynsel. Groentepeste wat aktief is onder koue toestande sluit in die groentekalender, saadmaaiers, en saagwespe.
Groentekalander
Die groentekalander, Listroderes costirostris, kom oorspronklik van Brasilië. Volwasse kewers is 8-10 mm in lengte, bruingrys van kleur, met ‘n ligter “V” merk op die vlerkdoppe. Volwassenes kom soms in groepe voor, maar is skugter en kruip gewoonlik weg onder blare en klippe gedurende die dag. Voeding op gewasse geskied gewoonlik net gedurende die nag hulle word dus selde opgemerk. Hoewel hulle kan vlieg, sal ‘n kewer eerder na die grond val in ‘n skyndood, om te ontsnap van vyande. Die groentekalander is ‘n koelweer pes, meestal aktief in die herfs tot vroeg somer. Hul oorsomer in die warm somermaande.
Wyfie kalanders lê hul eiers op plante of op die grond langs plante. Die larwes het nie pote nie, maar gebruik uitstulpings en groewe aan die onderkant en sykante van hul liggame om by plante op te klim. Jong larwes is roomkleurig, maar word geel of groen soos hulle ouer word. Larwes neem ongeveer een maand voor hul volgroied is, en bereik ‘n lengte van ongeveer 14 mm. Pupering geskied in die grond, tot op ‘n diepte van vyf sentimeter.
Saadmaaiers
Saadmaaiers (Delia platura) is die larwes van ‘n klein vliegie, 5 mm in lengte. Gewasse wat geplant word in vars bewerkte grond, of grond wat baie vars kompos bevat, word veral aangeval. Jong saailinge en spruitende saad is veral vatbaar; plante wat verby die saailing stadium is, word selde aangeval. Gewasse wat kwesbaar is sluit in die wat gedurende die koeler maande verbou word.
Eiers word in groepies van tot 10 in gronde met spruitende sade gelê. Sade van swak gehalte, byvoorbeeld beddings wat vrot sade en verottende plantmateriaal bevat, dien as ‘n lokmiddel vir die vliegies. Larwes wat uit die eiers verskyn kan tot 8 cm diep in gronde intonnel op soek na spruitende sade. Indien sade nie gevind word nie, sal hulle kan ontwikkel op enige verottende materiaal, insluitende kompos. Die vliegie en die larwes verkies koel weer ontwikkeling van larwes stop gedurende die somermaande. Optimum temperature vir die ontwikkeling van die larwes is tussen 21 and 23°C.
Skade aan gewasse word deur die larwes gedoen, die vliegie leef op vloeistowwe soos nektar en heuningdou. Een van die probleme om saadmaaiers uit te ken as ‘n pes, is die feit dat skade onder die grond aangerig word nog voor die saailing deurbreek na bo. Plantdigtheid word dus beïnvloed, en dikwels word swak saad die skuld gegee. Wanneer saad geplant word in vars bewerkte grond, of grond met oorvloedige kompos, moet saadmaaiers altyd in gedagte gehou word as ‘n potensiële “onsigbare” pes. Indien in koeler tye van die jaar geplant word, sal die probleem heel waarskynlik vererger.
Saagwespe
Saagwespe het nie angels nie en kan nie steek nie. Die naam verwys na hul saagagtige ovipositor wat gebruik word om hul eiers binne plantmateriaal te lê. Saagwespe is bekend om gewasse soos pruime en pere aan te val, maar een spesie, Athalia marginipennis, spesialiseer op koolgewasse.
Athalia saagwespe word maklik uitgeken aan hul donker antennas, kop en toraks, geel abdomen en geel en swart pote. Jong larwes is donker, maar word later ligter van kleur. Die verskil tussen saagwesplarwes en die larwes van motte en skoenlappers (Lepidoptera), is die aantal pote. Lepidoptera larwes het ‘n maksimum van vyf abdominale pote, terwyl die meeste saagwespe sewe het.
Larwes wat uit eiers broei gaan deur vyf of ses instars terwyl hulle op blare van koolgewasse voed. Volgroeide larwes spin kokonne op die grondoppervlak onder plante. Athalia saagwespe is aangepas om te floreer by koel temperature tussen 10 and 25°C. Wanneer temperature styg, en ook wanneer daglengtes toeneem, sal die meeste saagwespe oorgaan in ‘n oorsomerfase. Hoewel Athalia saagwesplarwes spesialiseer op die blare van koolgewasse, kom hulle gelukkig nooit in groot getalle in Suid Afrika voor nie.
Deur Diedrich Visser, ARC Vegetable and Ornamental Plants, Pretoria