Belangrike enkelgeeneienskappe by vleisbeeste
Enkelgeen-eienskappe word gewoonlik deur ’n mutasie in ’n spesifieke geen veroorsaak. ’n Mutasie is ’n verandering in die DNS-kode wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van byvoorbeeld ’n spesifieke ensiem, hormoon of proteïen.
Die verandering in die geen se produk kan die dier gevolglik anders laat vertoon, byvoorbeeld, in plaas van swart hare, het die dier rooi hare, of omdat die produk van die geen glad nie of net gedeeltelik werk, kan dit byvoorbeeld ’n sindroom soos dubbelbespiering veroorsaak. Enkelgeen-eienskappe word hoofsaaklik deur een hoofgeen beïnvloed en hierdie tipe oorerwing staan as Mendeliese oorerwing bekend. Genomika word onder meer gebruik om die draers van enkelgene op te spoor. Genomika is die studie van enkelnukleotied polimorfismes (SNP’s) – klein verskille in die DNS van diere.
Dominansie
Elke dier ontvang twee vorms (variante) van dieselfde geen – een van sy vader en een van sy moeder. Indien ’n dier twee verskillende variante vanaf sy ouers ontvang, sal een van die twee variante gewoonlik domineer. So byvoorbeeld is die variant vir ’n swart haarkleur (ED) dominant teenoor die variant vir rooi haarkleur (e). Indien ’n dier dus beide ’n swart en ’n rooi variant het, sal die dier ’n swart haarkleed hê, maar wel die geen vir ’n rooi haarkleur dra en na sy nageslag oordra. In effek beteken dit dus dat ’n swart dier óf twee swart gene (ED/ED) óf ’n swart geen en ’n rooi geen (ED/e) kan dra. ’n Rooi dier sal altyd twee rooi kleurvariante (e/e) dra, omdat rooi resessief is. Nog ’n variant wat die kleur van beeste beïnvloed is die wilde tipe (E+), wat kleure tussen rooibruin en bruinswart kan veroorsaak. Diere met hierdie variant kan byvoorbeeld donkerder wees op die kop, rug, nek, ore, bene en stert. Daar is egter ook ander kleurgene wat kleure sal bepaal, of die rooi of swart gene sal wysig, byvoorbeeld die wit kleur van die Charolais.
“Enkelgeen-eienskappe word hoofsaaklik deur een hoofgeen beïnvloed en hierdie tipe oorerwing staan as Mendeliese oorerwing bekend. Genomika word onder meer gebruik om die draers van enkelgene op te spoor.”
By die poenskop- (Pc) en horing- (H) gene is poenskop dominant teenoor horings. ’n Dier met horings sal dus altyd twee horinggene (HH) dra, terwyl ’n poenskopdier óf twee poenskopgene óf ’n poenskop en ’n horinggeen kan dra.
Dubbelbespiering
Sekere mutasies in die miostatiengeen veroorsaak dat die embrio te veel spierselle het. Die dier vertoon dan die kondisie bekend as dubbelbespiering. Dubbelbespierde diere het meer vleis (spiere), maar ook minder vet, ’n swak skelet en verskeie ander probleme. Diere met twee nadelige miostatienvariante is dus nie geskik vir ekstensiewe boerdery nie, veral vanweë die verhoogde risiko van moeilike kalwings en verlaagde vrugbaarheid van koeie. Drie van die variante wat dubbelbespiering veroorsaak kom algemeen in baie vleisbeesrasse oor die wêreld voor, asook in Suid-Afrika. Die variante is almal resessief of gedeeltelik resessief, wat beteken dat ’n draer moeilik fenotipies uitgeken word.
Vleissagtheid
Variante van die calpain-, calpastatin- en DGAT1-gene word betekenisvol met vleissagtheid in verskeie vleisbeesrasse geassosieer, en daar is reeds genomiese merkers (SNP’s) vir hierdie gene geïdentifiseer. DGAT1 word ook met die persentasie vetinhoud van melk en spier (marmering) geassosieer. Die oorerwing daarvan is additief, wat beteken dat die gekombineerde effek gelyk is aan die som van die effekte van individuele variante.
Nadelige gene
Daar is ook genomiese merkers vir enkelgene wat nadelig is, byvoorbeeld Pompe se siekte, kromstert, vrotvel en verskeie onvrugbaarheidshaplotipes. Met moderne tegnologie is dit gelukkig maklik om draers van voordelige én nadelige enkelgeen-eienskappe te identifiseer en te selekteer.
Deur dr Helena Theron, genetikus, SA Stamboek
Inhoud: https://www.studbook.co.za/a170/algemene-artikels/belangrike-enkelgeeneienskappe-by-vleisbeeste.html