Wat is vriesbrand prosedure?

Wat is vriesbrand prosedure?

Reading time
Antrovet - Vriesbrand
Antrovet - Vriesbrand
Vriesbrand is besig om weer ’n terugkeer te maak en ons glo dit gaan oor die feit dat dit minder pynlik is vir die dier en ook ’n baie baie mooi merk maak.

In ’n vorige uitgawe het ons die wet rondom diereidentifikasie bespreek. Ons het ook die tattoeeërproses bespreek. Vandag gaan ons kyk na die vreisbrandprosedure wat ’n minder bekende prosedure is teenoor warmbrand. Vriesbrand is besig om weer ’n terugkeer te maak en ons glo dit gaan oor die feit dat dit minder pynlik is vir die dier en ook ’n baie baie mooi merk maak. Die vriesbrandprosedure verander die haar follikel en die haar groei uit as ’n ander kleur. Met warmbrand val al die hare uit en dit verseker die merk. Op bruin en swart beeste groei die hare wit uit as jy vriesbrand doen en op wit diere sal die hare bruinswart uitgroei. Jy kan so ’n merk visueel op ’n redelike vêr afstand sien! Hierdie is ’n redelike lang en omslagtige manier van merk so jy sal dit meestal met stoetdiere doen asook diere wat vir ’n paar jaar op jou plaas sal bly. Hieronder volg die prosedure:

Vriesbrand Prosedure

Items benodig:

  • Geïssoleerde bak of houer om brandysters in af te koel
  • Spesiale vriesbrandysters (bestel deur jou naaste koöperasie)
  • Skeermasjien
  • Skeermes
  • Vloeibare stikstof of brandspiritus en droë ys as afkoelmiddel (Kontak Dry Ice International – 012-810-0500 of info@dryice.co.za)
  • Stophorlosie
  • ViceGrip immobiliseerder
  • 95% Metiel / Etiel alkohol of brandspiritus
  • Beskermende handskoene

Prosedure:

  1. Skeer die hare met die skeermasjien waar gebrand moet word.
  2. Skeer die hare met ’n skeermes tot op die vel om ’n absolute haarlose oppervlak vir brand te verkry.
  3. Borsel alle los hare en dooie vel af.
  4. Plaas brandysters in ’n geïsoleerde houer en bedek met vloeibare stikstof.
  5. (As alternatief, bedek brandysters met brandspiritus en voeg stukke droë ys by. Die stukke droë ys moet deurentyd in die brandspiritus teenwoordig wees.)
  6. Wanneer die kookproses afneem is die brandysters voldoende afgekoel (±5 minute)
  7. Benat die vel deeglik met die Metiel / Etiel alcohol of brandspiritus voor elke brandmerk aangebring word.
  8. Immobiliseer die dier.
  9. Haal die brandysters uit verkoelingsmiddel en skud oortollige vloeistof af.
  10. Druk die brandyster ferm op die benatte gedeelte van die vel.
  11. Gebruik stophorlosie om die periode van velkontak te reguleer.

Riglyne vir velkontak met vriesbrandysters is as volg:

  • Beeste                  Droë ys en brandspiritus          Vloeibare stikstof
  • Jong Diere            30 Sekondes                                        20 Sekondes
  • Volwasse diere    40 Sekondes                                         30 Sekondes

Plaas die brandyster terug in die verkoelingsbak.

Dit neem ongeveer 1 maand vir al die dooie hare om uit te val.

Na ongeveer 3 maande sal wit hare in die plek van die ou hare groei.

Vriesbrandysters is beskikbaar deur Dry Ice International of jou naaste veearts of koöperasie kan dit bestel deur Antrovet.

Deel hierdie artikel

Sluit aan by BOERhier!