Speen tyd in jou vleisbeeskudde
Deur Zanmari Crous
Die hoof doel van ’n vleisbeeskudde is om so veel as moontlik kalwers te produseer. Die speen van kalwers is stresvol vir beide die koei en die kalf. Die stresvolle tydperk moet so gou as moontlik gebeur om speen skok te verminder en te verhoed dat dit produksie verlaag in die kalwers. Die boer moet dus alles in sy vermoë doen om speen so glad as moontlik te verloop.
Wanneer?
Die regte tyd om te speen, hang af van die kondisie van die koeie en die ouderdom van die kalwers. Die ideale ouderdom om te speen is tussen 7 en 8 maande. Kalwers moet wel gespeen word voor die kondisie van die koeie te swak raak, <2.5 kondisie telling. Indien genoegsame wintervoer beskikbaar is en die koeie behou hulle kondisie, kan die kalwers later gespeen word.
Tydens droogte kan kalwers vroeër (6 maande of jonger) gespeen word. Dit sal die koeie genoegsame tyd gee om te herstel voor die winter maande. Dit is belangrik dat die koeie se uier kan herstel vir die volgende kalf.
Vroeë speen
Dit moet slegs gedoen word in erge droogte of as daar ’n ernstige voer tekort is. Kalwers wat te vroeg gespeen word kan groot terugslae ervaar en dit sal bydra tot swak produksie. Die koeie se kondisie is ook ’n belangrike aspek om in ag te neem. As die koeie se kondisie swak is kan die boer een van twee dinge doen; vroeg speen en konsentrate voer aan die kalwers of as daar genoegsame goeie voer beskikbaar is, dit eerder vir die koei met haar kalf voer. Voer van vroeg gespeende kalwers het ’n bydraende faktor tot die winsgewendheid en moet daarom slegs oorweeg word in uiterste omstandighede.
Speen metodes
Daar is verskeie metodes wat gebruik kan word om kalwers te speen. Party meer stresvol as ander.
Die metode wat die minste stres veroorsaak, is die gebruik van neusringe. Die neusring word aan die kalwers se neuse vasgemaak terwyl hulle by die koeie bly. Die neusring maak dit moeilik vir die kalf om te suip deurdat dit die koei se uier “steek/kielie” en sy dan nie stil staan nie, maar wegloop, wat verhoed dat die kalf kan suip. Na ’n paar dae sal die kalf ophou om te probeer suip en is dus dan gespeen. Die koeie en kalwers kan dus met minste stres geskei word en die ringe word verwyder.
’n Ander metode wat minder stresvol is, is om die koeie en kalwers te verdeel en in twee kampe te laat loop langs mekaar. ’n Sterk draad loop in die middel deur wat sal verhoed dat die koeie en kalwers bymekaar uitkom maar hulle steeds kan sien. Die gebulk sal so paar dae aanhou en later sal di geraas minder raak en die koeie en kalwers kan geskuif word van mekaar.
Nog ’n metode wat gebruik kan word as daar meer as een groep koeie met kalwers is, is om die groepe se kalwers met mekaar te ruil. Die kalwers het dan die geselskap van die ander trop koeie en loop dus nie alleen nie.
Die meer stresvolle metodes is om die koeie in die kamp te hou waar hul saam die kalwers was en die kalwers na ’n ander kamp te skuif buite hoorafstand van die koeie. Die kalwers staan dan op kraal met kos en water en die koeie soek dan die kalwers in die kamp waar hulle laaste saam hulle was.
Die stresvolste manier van speen is om die koeie en kalwers kraal toe te vat, hul van mekaar te skei en die kalwers te laai wat dan na ’n veiling, voerkraal of “backgrounding” fasiliteit vervoer word.
Oor die algemeen moet kastrasie, onthoring entings en brandmerk op ’n vroeër ouderdom gedoen word en nie saam met speen nie. Dit sal help om die stresvolle situasie van speen minder stresvol te maak.
Die mees praktiese metode vir jou spesifieke omstandighede, kan gebruik word. Beplanning moet vroegtydig gedoen word en alles moet gereed wees om speen tyd so glad as moontlik te laat verloop.