Danie Botha, eienaar van Jodan Boran Stoet, boer met Boran beeste op die plaas Vyfhoek, in die Arlington distrik, in die Vrystaat sedert 2004. Danie boer ekstensief, wat beteken die prestasievlakke van diere word nie geforseer nie, maar is baie meer aangewese op seleksie van diere, gehalte van weiding en bestuurspraktyke van die stoet.
Danie, ‘n boorling van Arlington in die Vrystaat, het, nadat hy aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem gematrikuleer het, in 1994, saam met sy pa begin boer. Hulle boerdery fokus was, op daardie stadium, hoofsaaklik op kommersiële beeskudde.
Hoe het alles Begin ?
In 2004 het Danie vir Adriaan Rall ontmoet. “Hy het my ongelooflik baie oor die Boran beeste geleer. Hy is intussen ongelukkig oorlede. Dit was ‘n voorreg om hom te geken het en te leer by hom” sê Danie. Hy het met 2 bulle en 3 koeie begin en toe maar so kort-kort ‘n paar diere by Adriaan en veilings gekoop.
Gemaklike Beesras
“Dit is ‘n baie lekker ras om mee te boer” sê Danie. Verder sê hy “Die rede waarom ek Borane gekies het, is omdat die Boran ras so maklike boerbees is. Jy kom eers in moeilike toestande agter hoe presteer die bees. Al is hy duur, hoef jy hulle nie in watte toe te draai nie”. Hy sê ook hulle is minder vatbaar vir bosluise en seer oë en baie minder arbeidsintensief. “Die Boran het ‘n baie goeie pens kapasiteit en kan groot hoeveelhede ruvoer inneem en omsit in vleis,” sê Danie verder. Hy noem ook verskeie belangrike aspekte met Borane wat vir hom die beesras van keuse maak. Dit sluit die volgende in:
- Mens kan met hulle op die veld boer met minimum lek
- Danie gee sy beeste net P12 en sout deur die jaar
- Die ras kan in baie moeilike toestande oorleef en produseer
- Daar is ‘n persentasie in die Borane, wat nie in ander rasse is nie, wat hulle uiters geskik maak vir kruis teling
- Hulle is nie ‘n selektiewe vreter nie en hulle loop saam in ‘n trop as hulle wei
- In uitsonderlike gevalle sal ‘n bees eenkant wees wanneer ‘n koei gekalf het of ‘n dier siek is
- Die koeie is goeie moeders en sal haar kalf beskerm met alles wat sy het.
- Kalwers is klein met geboorte, wat voordelig is vir gemaklike, meestal probleem vrye kalwings.
- Volwasse koeie weeg tussen 500 en 550kg en volwasse bulle weeg tussen 800 en 850kg. Alhoewel Borane kort bene het, is dit nie ‘n kleinraam beesras, wanneer mens hierdie gewigte in ag neem nie.
Danie sê ook dat mens ‘n band met elke dier in jou kudde bou. “Hulle wil hê jy moet aan hulle vryf en dan kompeteer hulle vir aandag”.