Groei in granaatproduksie vanjaar verwag
Die granaat-plukseisoen begin vandeesweek in Suid-Afrika, met kwekers wat die Angel Red-variant in die noorde van die land sal begin pluk.
Boere sal die Angel Red-variant nou begin pluk. (Foto: Sapex)
Die organisasie Sapex sê slegs beperkte volumes van dié kultivar sal beskikbaar wees en dit gaan ook die eerste keer wees wat Sapex dit uitvoer.
“Ons is opgewonde om te sien hoe Angel Red uitvoeromstandighede gaan hanteer,” sê die organisasie.
Die aanvang van die Wonderful-variant se plukseisoen volg oor ʼn paar weke, ʼn paar dae later as verlede jaar, maar uitvoere sal waarskynlik teen naastenby dieselfde tyd begin.
“Verskeping is in hierdie stadium ietwat van ʼn bekommernis en ons hoop die probleme by die hawens word binnekort opgelos.”
Die Wonderful-granate word eers oor ‘n paar weke gepluk. (Foto: Sapex)
Sapex verwag ʼn toename in granaatvolumes van naastenby 20% nadat nuwe aanplantings in produksie begin kom het. Vir Suid-Afrika in die geheel, gaan volumes waarskynlik met sowat 10% styg in vergelyking met verlede jaar se seisoen.
Sapex sê weersomstandighede is gunstig, hoewel verwagte warmer temperature sonbrand kan veroorsaak. Marktoestande bly egter gunstig.
Red Angel-granate aan die boom. (Foto: Sapex)
Source: https://maroelamedia.co.za/landbou/landbounuus/groei-in-granaatproduksie-vanjaar-verwag/