Om jou skaapkudde groter te maak of jou jong diere uit te kies as deel van die teelkudde is ’n opwindende besluit wat gemaak word maar moet noukeurig gedoen.
Alle diere wat gekies word vir die teelkudde moet gesond wees. Moenie ongesonde diere kies wat onderliggende siektes en parasiete het nie. Swak gesondheid kan aangedui word deur donker en blou vel, vaal ooglede en neusvel, mankheid en lusteloosheid.
Kies van jou ooie
’n Ooi se uier is van die belangrikste eienskappe om na te gaan as daar gekies word vir die teelkudde. Sonder ’n uier is daar nie melk nie en dan kan sy nie lammers groot maak nie. Gaan dus eerste die ooie se uiers na. Kyk vir knoppe en maak seker die spene is nie beseer nie. Voel die uier deur dat dit sag en soepel is. Tande, bene, kloutjies, oë en asemhaling moet deurgekyk word vir abnormaliteite.
Die ooi moet ’n oop gesig hê dus nie te veel wol hê nie. Ooie met oop gesigte produseer 15% meer wol as ooie met ’n toe wol gesig. Selekteer ooie met uniform wol vagte. Selekteer volgens die veseldikte wat jy in jou kudde wil behou. As jy jou wol fyner wil hê, selekteer ooie met ’n meer fyner wol. As jy die wol van jou kudde sterker wil maak, selekteer dus ooie met ’n bietjie sterker wol.
Groter raam ooie sukkel minder tydens lamtyd. Hulle het ook meer melk, skeer swaarder vagte en is vrugbaar. Selekteer ooie wat uniform is en die regte boutipe waarna jy streef of wat by jou omgewing sal inpas.
Goed uitgegroeide jong ooie is ’n beter keuse vir die vergroting van die kudde as ouer ooie. Wol tipe ooie verloor produksie effektiwiteit vanaf 6 jarige ouderdom. Ouer ooie se waarde verminder ook omdat hul produksie effektiwiteit afneem.
Dit is nodig om die ooie fisies te hanteer en deur te kyk en nie net op die oog af te klas nie. Sodoende kan die presiese konformasie en kondisie van die ooie gevoel en bepaal word. Die rede hiervoor is dat die wol sommige van die eienskappe kan wegsteek met net ’n visuele inspeksie. Werk die ooie deur van voor tot agter. Kyk die tande, neus, oë en ore. Voel die nek en skouers en rug vir bespiering en kondisie. Neem die ooi se kondisietelling. Ooie in ’n beter kondisie raak makliker dragtig en makliker dragtig met meerlinge. ’n Kondisie telling van 2.7 is ideaal. Sy moet die kondisie telling behou deur dek en dragtigheid. Dit sal veroorsaak dat sy genoegsame melk het tydens lam en dat daar nie lam probleme sal voorkom nie. Gaan die bene deur om seker te maak daar is nie beserings nie en dat ooi gemaklik kan loop. Die vag kan ook met die inspeksie nagegaan word om die lengte en kwaliteit te bepaal.
Kies van jou ramme
Goeie sorg moet toegepas word met die keuse van ’n ram vir jou kudde. Soos met die ooie, moet hulle ook fisies deurgegaan word. Selekteer ’n ram wat die eienskappe wat ontbreek in jou ooikudde sal inbring. Die ram moet groot, sterk en gespierd wees en manlik vertoon. Hy moet ook ’n stewige been struktuur hê. Die ram moet gemaklik kan loop en fiks wees. Bestudeer die groeitempo van die ram deur te kyk na die 90 en 120 dag gewig. ’n Vinnige groeitempo is 30% oordraagbar na die lammers.
Kyk vir twee goed ontwikkelde, buigbare testes. Die beste indikasie van potensiële vrugbaarheid van ’n jong ram, is die skrotum omtrek. ’n Ram bereik pubertiteit rondom 5-7 maande en die gemiddelde skrotale omtrek meet 30-33cm. Indien die ram se skrotale omtrek onder gemiddeld meet, dui dit lae vrugbaarheid aan of ’n laatryp ram. Selekteer ramme met ’n bo gemiddelde skrotale omtrek op rypword ouderdom. ’n Goeie kwalitieit ram, sal in die langtermyn ’n goeie belegging wees. Selekteer/koop ramme met uitsonderlike groei, spiertonus, gesondheid en vag kwaliteit.
Korrekte boutipe vir ramme en ooie sluit die volgende in:
- Goeie lengte, diepte en wydte van lyf
- Medium kort, dik nek
- Wye, breë bors
- Goeie spring van rib
- Diepte in die voor en agter flanke
- Breedte en diepte oor die lende
- Sterk breë rug, stewige skouers
- Lank, wyd en gelyk oor die kruis
- Reguit bene met genoegsame spasie tussen in
- Sterk enkels en sterk kloutjies wat nie te lank is nie
- Manlike/Vroulike voorkoms
- Skape moet die ras se eienskappe vertoon
- Alle aspekte van die lyf moet bymekaar inpas (saamvloei)
- Sterk, gespierde bene
- Breed by die stert
- Goed gespierde en stewige lyf
Geskryf deur Zanmari Crous