Byvoeging van ureum tot groen seisoen lekke vir beeste
Agtergrond
Soos wat veeproduksie al hoe meer intensifiseer en vereiste vlakke vir produksie toeneem, raak die behoeftes vir alle voedingstowwe deur die dier ooreenstemmend ook al hoe hoër. Die vraag ontstaan dus of natuurlike weiding in die groen seisoen steeds aan die proteien en energie behoeftes van hoë produserende diere kan voldoen en diere optimaal sal produseer met slegs ’n minerale aanvulling. Die doel van hierdie artikel is om spesifiek ondersoek in te stel na die voorsiening van aanvullende proteiene vir diere op natuurlike groen weiding. Die proteïeninhoud van natuurlike weiding gedurende die groen seisoen word aangedui in Tabel 1.
Tabel 1: Die proteïeninhoud (%) van natuurlike weiding gedurende die groen seisoen (uitgedruk op ’n 100% droë materiaal basis).
Veldtipe | Lente | Somer | Herfs |
Gemeng / suur (beperkte weiding) | 8,5 | 7,0 | 4,0 |
Gemeng / suur (oormaat weiding) | 8,9 | 7,8 | 6,7 |
Soetveld | 10,1 | 6,9 | 6,2 |
Voergraad Ureum
’n Lakterende vleisbees koei benodig sowat 7,8% proteïen in haar dieet om aan haar behoeftes te voldoen. Meeste diere lakteer wel tydens die groen seisoen, omrede natuurlike weiding dan die beste voedingswaarde het. Dit is belangrik om in ag te neem dat alle herkouers die vermoë het om selektief te wei, dus selekteer hulle ook ’n fraksie van die weiding wat hoër is in beide proteïen en energie as wat die totale weiding bevat, maar hierdie vermoë neem af wanneer die proteïen en energie inhoud van die weiding laer is, of wanneer hoë druk beweiding toegepas word. Vanuit bogenoemde kan afgelei word dat veld veral in die laat groen seisoen heel waarskynlik te min proteïene bevat om aan hoog produserende diere se behoeftes te voldoen. Afhangend van die tipe veld, kan dit so vroeg as Februarie (baie suur) tot so laat as April (baie soet) wees wat hierdie situasie ontstaan. Diere in ’n hoë druk beweiding stelsel of diere wat op beperkende hoeveelheid weiding wei, mag selfs dwarsdeur die groen seisoen addisionele proteïene benodig.
Aangesien herhouers ’n mikrobe populasie in hulle rumens bevat wat ureum en ander nie proteïen stikstof (NPN) bronne kan omskakel na mikrobiese proteïen, en NPN heelwat goedkoper per eenheid proteïen is as natuurlike proteïen, is die aanvulling van proteïen deur middel van NPN dus ’n logiese keuse.
Hoeveel proteïen behoort aangevul te word?
Die hoeveelheid aanvulling sal natuurlik direk afhang van die proteïeninhoud van die veld tesame met die inname van veld, asook die vlak van produksie van die dier, maar tipies behoort grootvee sowat 50 tot 150 gram aanvullende proteien per dag te ontvang (teenoor die 150 tot 250 gram op droë weiding). Aangesien die mikrobes vinnig beskikbare energie benodig om NPN veilig in mikrobiese proteïen om te skakel, is dit altyd raadsaam om ’n bron van vinnig beskikbare energie (soos gemaalde graan of melasse produkte) saam met die NPN in die lek in te sluit.
Korrekte bestuur van groen seisoen aanvullings met NPN insluiting
Die groen seisoen is uiteraard ook die reën seisoen. Wanneer NPN met staande water in aanraking kom, los dit op en diere wat hierdie water drink, staan ’n groot kans om NPN vergiftiging op te doen. Lekke wat NPN bevat behoort dus teen reën beskerm te word. Indien dit onmoontlik is, moet daar gesorg word dat die lekbakke water kan dreineer. Wanneer reën verwag word, moet ook verkieslik minder lek uitgesit word.
Wat van bemeste aangeplante weiding?
Bemeste groen aangeplante weiding se proteïeninhoud is heelwat hoër as die van natuurlike weiding, met proteïenvlakke wat normaalweg wissel tussen 100 tot 200 gram/kg, wat aan alle behoeftes van die dier voldoen. Die grootste gedeelte van hierdie proteïen is vinnig oplosbaar in die rumen en word dus deur die mikrobe gebruik soos wat hulle NPN sou gebruik. Die aanvulling van addisionele NPN word dus nie op hierdie weidings aanbeveel nie. Vir jong vinnig groeiende diere mag dit wel voordelig wees om ekstra hoë kwaliteit natuurlike proteïen op hierdie weidings aan te vul.
Vir enige navrae rakende hierdie artikel kontak gerus die outeur by ewie@feedtek.co.za
Produk registrasie nommers: Greengrazer 126 (V16145), Econograzer 213 (V30942) – Wet 36/1947
Navrae: Tel: 086 111 5362 Faks: 086 601 2216 E-pos: info@feedtek.co.za, www.feedtek.co.za
In Tabel 2 word voorbeelde van lekmengsels aangedui wat geskik is om proteïen op groen weiding aan te vul.
Tipe natuurlike weiding: | Goed | Gemiddeld | Swak |
Grondstowwe | |||
Graanmeel (*) | 300 | 450 | 600 |
Sout | 450 | 350 | 250 |
Feedtek Greengrazer 126 | 160 | 120 | 80 |
Feedtek Econograzer 213 (**) | 75 | 75 | 75 |
Totaal (kg) | 985 | 995 | 1005 |
Samestelling (%) | |||
Proteïen | 18.5 | 19.5 | 20.4 |
Ureum | 5.0 | 5.0 | 4.9 |
Kalsium | 3.6 | 2.8 | 1.9 |
Fosfor | 2.2 | 1.7 | 1.2 |
TVV | 25.0 | 37.1 | 49.0 |
Aanbevole inname (g/dag) | 300 – 600 | 400 – 800 | 500 – 1000 |
(*) Vervang tot 75 kg van die graanmeel per ton met Kalori 3000 om bestandheid teen reën te verbeter, of vervang tot 120 kg graanmeel per ton met melassemeel indien verkies.
(**) 75 kg Econograzer 213 kan met 88 kg Veldgrazer 154 of 100 kg Veldgrazer 128 vervang word indien verkies.