Boorgat-eienaarskap: Die impak van meer boorgate op grondwaterbronne
Grondwater beweeg grotendeels saam met die topografie van hoër- na laerliggende dele. Parys se grondwater beweeg dus van die suide noordwaarts na die Vaalrivier as die laagste punt.
Die afgelope maande dreunsing boormasjiene oral in Parys met die dorp se ewigdurende waternood wat al meer mense noop om boorgate te boor. Gazette het met raadgewende hidrogeoloog en kundige, Johan Smit, hieroor gesels. Johan noem dat een boorkontrakteur vanjaar al byna 60 boorgate in Parys geboor het. Hy weet ook van ten minste vyf boorkontrakteurs wat per geleentheid in Parys boor. Dit is dus veilig om aan te neem dat ver meer as 100 boorgate slegs vanjaar in Parys geboor is, sê Johan. Maar wat is die implikasie hiervan? Johan gee in ’n reeks artikels meer inligting oor wat jy moet weet van boorgat-eienaarskap.
Die wettigheid van boorgate:
Volgens Skedule 1 van die Nasionale Waterwet (36) van 1998, is enigeen geregtig op die gebruik van water vir redelike huishoudelike gebruik van ’n waterbron waartoe hulle wettiglik toegang het. Dit sluit dus die grondwater onder jou eiendom in. Omdat die plaaslike munisipaliteit konstant in gebreke bly om voldoende huishoudelike water aan Parys en sy inwoners te voorsien, is daar dus niks mee fout om boorgate te boor om die waternood te verlig nie. Wanneer die watergebruik egter buite Skedule 1 gebruik val, soos byvoorbeeld vir landbou, mynbou of ander kommersiële doeleindes, moet die watergebruik geregistreer of gelisensieer word, wat ’n volledige hidrogeologiese volhoubaarheidsondersoek behels. Dus kan enigeen nie net langs jou ’n spilpunt opsit sonder die nodige studies om te bepaal of dit die bron gaan uitput nie.
Ek het egter al by meer as een geleentheid gehoor van mense wie se boorgate ingegee het of ‘opgedroog’ het, veral kort na ’n buurman geboor het. Wat staan jou dan te doen? Ongelukkig niks nie.
Net soos wat jy ’n reg tot die water onder jou eiendom het, het jou buurman ook, en omdat dit ’n geïntegreerde waterbron is waaruit almal put, gaan meer boorgate ’n groter impak op die bron hê.
Sedert ek my boorgat byna drie jaar gelede geboor het, het die watervlak van 3.5m tot oor die 6m gesak – en dit sluit twee uitsonderlike reënvaljare in wat bydra tot die hervulling van die grondwater, en lei tot die styging in vlakke.
Die drastiese daling in vlakke wys dus watter enorme impak die addisionele gate in Parys op ons grondwaterbronne het. Die erwe in die boonste (suidelike) deel van die dorp wat vlak boorgate het, gaan die ergste geraak word, omdat die daling in watervlak die meeste hoër op behoort te wees. Grondwater beweeg grotendeels saam met die topografie van hoër- na laerliggende dele. Parys se grondwater beweeg dus van die suide noordwaarts na die Vaalrivier as die laagste punt.
Die situasie gaan egter nie gou verbeter nie, en al hoe meer mense skraap geld bymekaar om te boor, net om ten minste water te kan hê. Dit gaan net nog ’n groter las op die bron plaas, en as ons ’n jaar of meer van ondergemiddelde reënval gaan beleef, gaan meer mense se boorgate probleme optel.
Wat van gedeelde eienaarskap?
Ongelukkig kan jy nie die water uit jou boorgat aan jou bure verkoop nie, want daarvoor moet jy as ’n waterdiensverskaffer registreer om ’n gebruikslisensie te bekom, wat ook ’n volhoubaarheidstudie gaan behels. Die menslike ding om te doen is om die water gratis aan die gemeenskap in nood beskikbaar te stel. Net so is dit ewe menslik vir dié wat gereeld water gratis ontvang, om nou en dan by te dra tot die lopende kostes van die water wat hulle gratis ontvang, hoewel dit nie wetlik vereis kan word nie.
Om die koste van ’n boorgat en lopende uitgawes soos filters en elektrisiteit tussen ’n paar bure te deel is dus moontlik op hierdie vriendskapsbeginsel, maar egter net vir ’n tyd, aangesien dit nie ’n reg is wat oordraagbaar is met die verkoop van die eiendom waarop die boorgat gesink is nie.
Die beste roete is dus om jou eie boorgat laat boor, wat die waarde van jou eie eiendom lig. In die volgende artikel gaan ons kyk na hoe om onsself van toenemende boorgatprobleme te beskerm.
Lees ook: https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2022/10/13/baie-vrae-oor-grondwater
Johan Smit het sy graad in M.Sc Omgewingswetenskappe (Hidrologie en Geohidrologie) aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Hy is ’n raadgewende hidrogeoloog van Parys, en is die afgelope bykans 20 jaar in die dorp gevestig. Johan kan geskakel word by 083 204 4674, of stuur e-pos na johan@tsunamiresources.com
Bron: https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2022/10/13/baie-vrae-oor-grondwater/