BOERhier Logo
Soek
Close this search box.

Wat is die rol van genetika en veldramprojekte om ekonomies met kleinvee te kan boer?

Wat is die rol van genetika en veldramprojekte om ekonomies met kleinvee te kan boer?

Lees tyd
Noordkaap Veldramme
Noordkaap Veldramme
Die doel van die projek is om potensiële teelramme onder normale veldtoestande so akkuraat moontlik te evalueer en dit aan produsente aan te bied met soveel inligting as moontlik tot ons beskikking nl.

Die rol van genetika en veldramprojekte, om ekonomies met kleinvee te kan boer

Noordkaap Veldram projek het die afgelope agt en dertig jaar bewys dat die gebruik van aangepaste, veld grootgemaakte, prestasiegetoetste ramme meer geld in die kudde en stoetboer se sak verseker.

Reeds in 1959 het ’n groep telers begin met die gedagte van rekordhouding en meting om veldaangepaste ramme en ooie te selekteer. In 1985 is die Noordkaap Veldram Projek gestig om funksioneel doeltreffende ramme wat op die veld grootgeword, wat aangepas is en op ’n wetenskaplike wyse geselekteer is, aan produsente beskikbaar te stel.

Iemand het eenmaal gesê: Ek is bevrees dat in die soeke na beter presteerders, daar deur boere kruisteling toegepas word, dat hulle in die begin net die effek van basterkrag raaksien en dan weer in ’n slaggat van mooier diere sonder beter prestasie val.

Kopers het moeg geword om ramme te koop wat oorvet is, hul loopvermoë verloor het en ’n swak libido het.

Die eerste veiling is in 1986 gehou. Drie rasse is aangebied naamlik: Dorpers, Boerbokke en Persies. Deelnemende rasse het deur die jare gewissel soos wat telers en kopers se belangstelling verander het. Die rasse wat tot dusver deelgeneem het sluit onder andere in Dorpers, Boerbokke, Van Rooys, Persies, Vandors, Damaras en Meatmasters.

Tans is daar vyf rasse nl. Dorpers, Witdorpers, Van Rooys, Boerbokke en Savannas in die projek. Die doel is nie om rasse met mekaar te vergelyk nie, aangesien daar ’n liefde en plek vir elk van die genoemde rasse is. Resultate deur die jare het gewys dat die verskille binne elke ras groter is as die verskille tussen rasse.

Vir die eerste 24 jaar van die projek se bestaan is ramme anoniem verkoop. Slegs nadat die bod toegeslaan is, is die verkoper se naam bekend gemaak. Die rede was dat daar na die ram se prestasie gekyk moes word en nie na die teler agter die ram nie. Daar is egter weggedoen met die anonimiteit sodat alle Blub teelwaardes bekend gemaak kan word. Alle data word deur SA Stamboek verwerk, geverifieer en doen hulle ook die opstel van die veilingskatalogusse. Die projek hou tans twee veilings elke jaar nl. Griekwastad, die tweede Woensdag van September en Kenhardt die vierde Woensdag van Mei.

Die doel van die projek is om potensiële teelramme onder normale veldtoestande so akkuraat moontlik te evalueer en dit aan produsente aan te bied met soveel inligting as moontlik tot ons beskikking nl.

  • Teel ’n dier soos hy moet lyk om te produseer, nie soos ons wil hê hy moet lyk nie.
  • Ramtelers en slaglam produsente moet vir dieselfde eienskappe selekteer.
  • Ramme moet grootgemaak en getoets word onder dieselfde toestande waarin hulle moet gaan werk.
  • Die belangrikheid van ’n dier se vorm is oordryf in die verlede, terwyl die klem moet wees om ekonomies belangrike eienskappe soos vrugbaarheid, groeivermoë en aanpasbaarheid.
  • Blub teelwaardes moet deel vorm van enige seleksie program.
  • Reproduksie vermoë is die enkele eienskap wat winsgewindheid die meeste beïnvloed .
  • BEHOU BALANS: Pasop vir enkel eienskap seleksie.
  • Daar is goeie en swak diere in elke ras nie goeie en swak rasse nie.
  • Min mense weet hoe Blub werk, nogtans gebruik baie dit wêreldwyd om hul winsgewindheid te verhoog.
  • Prestassie syfers moet betroubaar en bo verdenking wees.
  • MEET OM TE WEET.

’n Dier se prestsie word deur sy genetiese samestelling sowel as deur die omgewing waarin hy groei en produseer, bepaal. Beide faktore moet geskik wees om goeie prestasie te verseker.

Die omgewing en bestuur waaraan diere blootgestel is, verander dwarsdeur hul produktiewe lewens. Hul genetiese potesiaal, wat deur die ouers bepaal word, bly egter dieselfde. Die genetiese bydrae van ’n dier tot sy prestasie is uiters belangrik en die enigste invloed wat ’n dier op sy nageslag kan hê, is deur die oordrag van gene.

Deur ’n dier te selekteer bloot op grond van hoe hy lyk, lewer onvoorspelbare resultate. Die enigste manier om diere objektief te evaluleer, is om van prestasiemeting gebruik te maak.

Wanneer ramme op veilings oorweeg word om vinnig-groeiende nageslag in ’n kudde te teel, kan die grootste ram moontlik die beste gene vir groeivermoë dra. Die ram kan egter ook bloot die bes-gevoerde of oudste ram op die veiling wees.

Waaneer ramme vir die verbetering van maternale eienskappe oorweeg word, bv hul vermoë om meerlinge te teel, of vir die teling van dogters met goeie maternale eienskappe, gaan visuele beoordeling van die ram nie die nodige inligting gee nie. Daarom is prestasie-toets skemas en Veldram Projekte ontwikkel om die identifisering van meerderwaardige genetika te vergemaklik.

Genetiese waardes word uit inligting vanuit hierdie skemas beraam. Dit is ’n onsydige evaluering van die genetiese potensiaal van ’n dier, met inagneming van nie-genetiese invloede op prestasie, soos ouderdom, grootmaakstatus en bestuur- of omgewingsfaktore.

Genetiese waardes dui aan waar op die ras se ranglys ’n dier geneties vir spesifieke ekonomies belangrike eienskappe geplaas word. Hierdie inligting help kopers om ramme te selekteer op grond van hul teelpotensiaal; met ander woorde, die potensiële effek wat hulle op die volgende generasie gaan hê. “Mooi” ramme is gewoonlik goeie groeiers, maar sal nie noodwendig vrugbare dogters teel nie.

Die LMI (Logix Meriete Indeks) balanseer genetiese verbetering oor ’n reeks produksie- en reproduksie- eienskappe, geweeg volgens hul relatiewe belangrikheid in die ras se teeldoelwit. Verder help LMI- gebaseerde seleksie om antagonistiese verwantskappe tussen eienskappe te oorkom, deurdat diere wat goed in beide eienskappe presteer geïdentifiseer kan word, ongeag die ongewenste verwantskappe wat mag bestaan.

’n Ram met goeie genetiese meriete is belangrik, maar ’n ram moet darem ook hard kan werk tydens die teelseisoen en vir minstens ’n paar seisoene gebruik kan word. ’n Ram wat funksionele probleme het, sal waarskynlik net ’n kort rukkie hou en minder ooie per seiesoen dek. Die hoeveelheid lammers wat ’n ram in sy leeftyd produseer, bepaal die wins wat hy vir sy eienaar in die sak bring.

Oorvet ramme hou gewoonlik nie langer as twee seisoene nie, wat beteken hul koste per lam gebore is baie hoër as ’n fikse ram wat meer ooie per seiesoen dek en langer in die kudde bly. Wees dus versigtig vir oorvet ramme en gebruik die LMI om te bepaal hoe die ram geneties teen die res van die ras opweeg en jou kudde kan verbeter.

Om te verseker dat diere voortdurend verbeter en aan sy spesifieke ras kenmerke en doelstellings te kan voldoen, is dit noodsaaklik om prestasiemeting te gebruik in enige seleksieproses en aankoop van ramme. Die belangrikste eienskappe nl. Groei, vrugbaarheid en doeltreffendheid, kan jy alleenlik bepaal deur prestasietoetsing, daarom is meting van die onsigbare eienskappe en gebruik van Blub uiters belangrik. Dit gee ’n beraamde teelwaarde wat voorspel hoe die dier se nageslag gaan produseer en reproduseer. Teelwaardes is die akuraatste inligting waarmee diere geselekteer kan word.

Die voorspelling van teelwaardes berus op drie bene nl. Metings, stamboom-inligting en genetiese parameters nl. Oorerfbaarheid en genetiese korrelasies tussen eienskappe.

Veldramprojekte en Prestasietoetsing is die pad na die toekoms. Die produk is ’n aangepaste, veldgetoetste en funksionele dier wat onder verskillende klimaats- en omgewings toestande kan produseer en reproduseer.

Wêreldwyd word prestasie data vandag gebruik om winsgewindheid te verhoog.

HG HUMAN
079 639 2216
hoekplaas@gmail.com

Share this article

Hooftrekke

Ad display

Sluit aan by BOERhier!