Wat is hittestres onder beeste?

Wat is hittestres onder beeste?

Lees tyd
Hittestres - Beeste in weiveld
Hittestres - Beeste in weiveld
’n Toename in die vlakke van hittestres is ’n realitieit en meer so in subtropiese Afrika waar die tempo van aardverwarming toeneem teen bykans dubbeld as die van die globale tempo.

Die jare 2015 – 2016 se somer seisoen was een van die mees ekstreme seisoene wat nog ooit aangeteken is, met meer gereelde hittegolwe en ’n laer as die gemiddelde reënval. ’n Toename in die vlakke van hittestres is ’n realitieit en meer so in subtropiese Afrika waar die tempo van aardverwarming toeneem teen bykans dubbeld as die van die globale tempo.

Soos wat hitte en vlakke van humiditeit verhoog, sal die negatiewe impak op veeproduksie ook toeneem. Volgens die Interregerings Paneel op Klimaatsverandering se verslag van 2007 sal lande soos Suid Afrika meer kwesbaar wees vir toekomstige klimaatsverandering. Daarom is die verwagting dat stygende omgewingstemperatuur, as gevolg van klimaatsverandering, ’n negatiewe uitwerking sal hê op die omgewing en op veeproduksie in die algemeen.

Die potensiële ekonomiese verliese wat deur die bedryf gely word as gevolg hittestress en gevolglike  verlaging in produksie, is reeds in 2003 deur navorsers van die VSA gekwantifiseer. Hierdie verlaging in prestasie sluit in ’n verlaagde voerinname, ’n negatiewe invloed op groeitempo en reproduksie, asook ’n toename in die getal vrektes. Beeste reageer verskillend as mense op omgewingstoestande en is meer sensitief vir hoë temperature en humiditeit en daarom meer vatbaar vir hittestres as mense onder dieselfde omgewingstoestande.

Die voorspelde toename in globale omgewingstemperatuur van die aarde se oppervlakte word geraam op tussen 2 °C en 4 °C teen die jaar 2100. Hierdie voorspellings beteken die negatiewe effek op veeproduksie gaan in intensiteit toeneem met ’n groeiende wêreld bevolking wat ook die behoefte na voedsel drasties sal laat toeneem.

Wat is hittestres?

Normale liggaamstemperatuur by beeste is in die orde van 38.6 °C en onder normale omstandighede hoër as die omgewingstemperatuur, wat die normale hitte regulering van die dier na die omgewing moontlik maak. Diere kan egter hittestres ervaar sodra die omgewing se temperatuur bokant 28 °C styg, veral met gepaardgaande hoë vlakke van humiditeit, wanneer dit onmoontlik raak vir die dier om af te koel en sy normale liggaamstemperatuur te handhaaf. Ander omgewingsfaktore kan ook hittestres affekteer en is ’n kombinasie van temperatuur, humiditeit, direkte blootstelling aan sonlig en windspoed. Herkouers produseer interne liggaamshitte deur die proses van vertering in die rumen en dit verhoog hittestres.

Invloed van hittestres op produksie

Verskeie studies is al gedoen op die effek van vleisbeesproduksie op kweekhuisgas uitskeiding en die gevolge op klimaatsverandering. Maar wat is die impak van hoër gemiddelde temperature op die produksie van beesvleis?

’n Bul in die sentrale bultoetssentrum op die Irene kampus. Onderdak fasiliteite bied skaduwee aan diere tydens voerbak besoeke.

Die somer dekseisoen in Suid-Afrika is gewoonlik gedurende die middel van die somer, wanneer die omgewingstemperatuur buite die normale gemaksone van beeste is. Eienskappe wat die winsgewendheid van ’n kommersiële vleisbeesboerdery beïnvloed, soos vrugbaarheid en groei word negatief beïnvloed wanneer beeste blootgestel word aan ekstreme toestande.

In die algemeen gaan droogtetoestande ook met laer as gemiddelde reënval en hoër as gemiddelde omgewingstemperature gepaard, wat die kwaliteit en kwantiteit van natuurlike weiding verlaag. Hierdie faktore kan die produksie omgewing verander in so mate dat dit die winsgewendheid en volhoubaarheid van ’n vleisbees produksiestelsel negatief beïnvloed.

Navorsing is deur die Landbounavorsingsraad op ’n aangepaste Bonsmara kudde, onder ekstreme Suid-Afrikaanse toestande gedoen. Die gemiddelde reënval per seisoen, lengte van die seisoen en die gemiddelde temperatuur is ondersoek om die invloed op die groeitempo van speenkalwers te bepaal. Resultate het aangedui dat die gemiddelde maksimum temperatuur die grootste negatiewe effek op die produksie van die kudde gehad het.

Invloed van hittestress op reproduksie

Bulvrugbaarheid word beïnvloed deur hittestres en het ’n negatiewe invloed op potensiële bevrugting en dragtigheid van koeie. Bestuur van bulle se liggaamstemperatuur voor en gedurende semen kolleksie vir kunsmatige insiminasie (KI) is ’n bron van kommer, omrede navorsing aangedui het dat die aantal spermselle en beweeglikheid dramaties afneem ten tye van blootstelling aan hittestres.

Verder het navorsers ook bevind dat 6 tot 8 weke benodig word voordat semenkwaliteit weer na normale vlakke terugkeer na toestande van hittestres. Die impak van hittestres op bulvrugbaarheid kan nie gering geskat word nie en selfs kort periodes van blootstelling aan hittestres kan lang termyn gevolge hê op bulvrugbaarheid.

Hoe om die negatiewe effek van hittestres op produksie te beperk

Boere kan addisionele en aanvullende voeding verskaf om die verlies in produksie te beperk, maar dit sal weer insetkoste verhoog. Praktiese verbeterings kan strukture wat skaduwee bied of sisteme wat lugvloei verbeter insluit, veral in intensiewe stelsels soos voerkrale en melkstalle. Dit is egter nie so maklik om die omgewing te beheer in ’n ekstensiewe stelsel nie.

Die beskikbaarheid van koel en goeie kwaliteit drinkwater asook genoegsame spasie by drinkbakke is belangrik om voldoende waterinname te verseker tydens ekstreme toestande. Die vervoer van diere moet ook beperk en vermy word gedurende hitte toestande. Hantering van vee moet beperk word gedurende die dag en eerder vroeg oggend en laat namiddag geskied.

Koeiproduktiwiteit mag ook negatief beïnvloed word indien die bul blootgestel was aan ekstreme somer temperature.

Seleksie vir aanpasbaarheid

Haarkleur is ook ’n hoë risiko faktor omrede donker haarkleur ’n laer refleksie potensiaal het. Ander faktore soos siektes, veral longontsteking, onderhuidse vetbedekking en temperament mag die risiko van hittestres verhoog. Beeste in voerkrale, veral die wat naby aan markgereed is, mag hittestres ervaar as gevolg van ’n laer long tot liggaam kapasiteit. Meer aangepaste diere met ’n gladde en kort haarkleed en los vel met meer veloppervlak, sal beter aangepas wees vir ’n ekstreme warm omgewing.

Groot waaiers en strukture wat skaduwee bied kan baie help om diere af te koel. Hierdie foto is geneem in Missisipi, in die suide van die VSA waar veral met swart Angus beeste suksesvol geboer word te midde van baie warm en vogtige toestande. Vlak damme in kampe bied ook afkoeling aan beeste.

Genetiese seleksie

Dis onmoontlik vir die teler om die omgewing te verander, maar seleksie mag die effek van hittestres tot ’n mate beperk. Die seleksie vir meer aangepaste diere en die aankoop van diere van telers in dieselfde omgewing kan ook aanpasbaarheid verbeter. Raskeuse of komposiet rasse wat beter aangepas is by die omgewing mag ’n oplossing bied. Telers word verplig om diere van goeie gehalte te produseer wat aan die standaarde voldoen van ’n mededingende kommersiële mark, veral ten opsigte van produksie en kwaliteit van speenkalwers. Hierdie standaarde mag ’n minimum vereiste groeitempo en/of speenkalf gewig insluit, veral indien speenkalwers verskaf word aan die voerkraalbedryf. Hierdiefaktore bepaal die teeldoelwitte vir die kudde.

Prestasie toetsing en aankoop van bulle met BLUP teelwaardes is uiters belangrik om aangepaste nageslag wat doeltreffend produseer te teel

Teeldoelwitte

Dit word aanbeveel om slegs geregistreerde bulle met teelwaardes te koop, om die verbetering van eienskappe van ekonomiese te belang, te verseker. Deur seleksie van teelmateriaal in sy eie omgewing is die kommersiële produsent in ’n beter posisie om volhoubaar te wees te midde van ’n uitdagende omgewing.

Variasie van eienskappe tussen rasse asook binne ras verband, vir groei en reproduksie stel die teler instaat om volledig prestasie toetsing te doen op sy kudde om sodoende koeie wat doeltreffend produseer te  identifiseer.

Reproduksie verslae wat beskikbaar is op die Nasionale Databasis (Integrated Recording and Genetic Information System) bied waardevolle inligting ten opsigte van doeltreffend produserense koeie. Wanneer ou koeie in kudde vervang word is dit juis die ouer koeie wat onder gemiddelde kalwers speen en met goeie kwaliteit verse vervang moet word.

Netto voerinname (NVI) is ’n ander doeltreffendheids eienskap om in te sluit in teeldoelwitte, sodat diere met laer voedingsbehoeftes geteel kan word. Seleksie van bulle met ’n lae netto voerinname teelwaarde sal nageslag met ’n laer voerinname verseker en beter voer doeltreffendheid. Bulle word in Suid Afrika getoets deur die LNR, asook ander privaat bul toetssentrums om hierdie bulle te identifiseer. Binne ’n omgewing wat meer uitdagings bied mag hierdie bulle meer gesog raak in die toekoms.

Teel stelsels

Langtermyn oplossings sal die gebruik van meerbul parings en/of bulle van tropies aangepaste genotipes insluit, om die effek van hittestres te beperk, veral gedurende die laaste gedeelte van die somer teelseisoen. Dit kan help om ten spyte van ekstreme somer toestande steeds ’n goeie kalf persentasie te handhaaf.

Moederlyne, van tropies aangepaste genotipes in ’n kruisteel stelsel sal die koei raamtipe beperk om sodoende koeidoeltreffendheid te verbeter. “Klimaat-slim” beesvleis produksie beteken minder teeldiere om die produksie van kweekhuis gasse te beperk, maar ’n toename in produksie per grootveeeenheid. Die drie primêre komponente wat koeidoeltreffendheid bepaal is produksie, onderhoud behoeftes van die koei en reproduksie tempo.

Studies op kruisteling by die navorsingstasie op Vaalharts in die Noord Kaap het inligting verskaf oor die effek van heterosis (basterkrag) op produksie eienskappe deur die Afrikaner as moederlyn te kruis met Europese (Charolais en Simmentaler), Britse (Hereford) en Zebu (Brahman) rasse  as vader lyn.

’n Studie om vroegtydige waarskuwingstelsels te ontwikkel vir volhoubare beesvleisproduksie in warmer dele van die land is nog aan die gang.

Die ontwikkeling van ’n Temperatuur-Humiditeits Indeks (THI)  per ekologiese streek mag telers ook help  indien ’n ekstreme somerseisoen voorspel word om  sodoende ’n strategie uit te werk om moontlike verliese in produksie, te beperk.

Opsomming

Die voorspelling is dat Afrika meer negatief geraak gaan word deur aardverwarming as van die ander kontinente. Die uitwerking van aardverwarming op volhoubare diereproduksie is verwant aan die effek van omgewingstemperatuur (hittestres, voedingstres, verlaagde produksie en reproduksie), klimaat (reënval, humiditeit, bestraling), verandering in dier en plantsiekte patrone (bedreiging van nuwe siektes en plae asook frekwensie van bestaande siektes), voedingswaarde van weiding en verandering in die samestelling van natuurlike weiding (groei, opbrengs en weiding kapasiteit) en die aanpasbaarheid van diere in die produksie omgewing.

Omgewing temperatuur is die faktor wat die grootse direkte effek het op diereproduksie, terwyl voedingstres die grootste indirekte effek op weiding van diere in die tropiese en subtropiese gebiede het. Diere in die suidelike dele van Afrika sal noodwendig moet aanpas by hoër omgewingstemperature, laer gehalte natuurlike weiding in sekere areas en die uitbreiding van siektes, veral bosluise en bosluis oordraagbare siektes as gevolg van aard verwarming. Die ontwikkeling van versagting strategiëe en ’n “vee ongemaksindeks” is daarom belangrik om volhoubaarheid te bevorder.

Frans Jordaan kan gekontak word by,
Fransj@arc.agric.za of Tel. 012 672 9085.

Verwysings:

  • Genetic basis for heat tolerance in cattle. Megan M Rolf, 2015
  • Applied reproductive strategies in beef cattle. Kasey Brown, 2015
  • Principles of climate smart beef production in an era of global warming. Scholtz, M. M. Mokolobate, M. C. Jordaan, F. J. Pyoos, D. A. Theunissen A. ARC National Beef Bulletin 2018. 2018.
  • Economic Losses from Heat Stress by US Livestock Industries. St-Pierre N. R., Cobanov, B., & Schnitkey, G., 2003. J. Dairy Sci. 86:(E. Suppl.):E52–E77 American Dairy Science Association.
  • The relationship of RFI and voluntary forage intake and cow survival under range conditions. Dan B. Faulkner, February 2016.

FJ Jordaan, Dr B Greyling &
Prof MM Scholtz
ARC-Diere Produksie

Share this article

Sluit aan by BOERhier!