Wat is Voldoening in die Landbou Konteks?

Wat is Voldoening in die Landbou Konteks?

Lees tyd
Wheat field Image by Pexels from Pixabay
Wheat field Image by Pexels from Pixabay
As Boer soek jy ’n goeie prys vir die produk wat jy aan die lokale of uitvoer mark verskaf. Om ’n goeie prys te kry moet jy die verbruiker tevrede stel sodat hulle bereid is om meer vir jou produk te betaal.

Wat is voldoening in die landbou konteks?  Hoe het dit betrekking op my as Boer?

Dis ’n redelike eenvoudig antwoord. As Boer soek jy ’n goeie prys vir die produk wat jy aan die lokale of uitvoer mark verskaf. Om ’n goeie prys te kry moet jy die verbruiker tevrede stel sodat hulle bereid is om meer vir jou produk te betaal.

Voldoening aan verskeie akkreditasies of standaarde het tans drie bene. Voedselveiligheid, sosiale en etiese vereistes en omgewingsbestuur.

Eerstens word daar gekyk na voedselveiligheid. Word die produk wat gelewer word verbou en verpak op so ’n manier dat dit veilig is om te eet?  Met ander woorde, die produk word met goedgekeurde produkte gespuit en gepluk op ’n veilige tyd sodat dit veilig is vir die verbruiker se gesondheid. Die hantering van die produk terwyl dit verpak word is ook van belang en dus is higiëne van die werkers belangrik sodat die vrug nie tydens die pak proses gekontamineer word deur menslike patogene soos E.Coli, Salmonella en Listeriose nie. Produk raklewe word ook deur patogene benadeel en dus is goeie higiëne in die pak area baie belangrik.

Tweedens word daar gekyk na sosiale en etiese vereistes. Dit is hoe die Boer kyk na sy mense, byvoorbeeld, word die werkers ten minste minimum loon betaal en is die werksomstandighede en behuising ten minste veilig. Wanneer mens kyk na die hoeveelheid Wette van toepassing in hierdie area is daar minstens 15 verskillende Wette van toepassing naamlik:

  • Labour Relations Act 66 of 1995
  • Employment Equity Act 55 of 1995
  • Sectoral Determination 13 for the Farmworker Sector
  • Basic Conditions of Employment Act 75 of 1997
  • National Minimum Wage Act 9 of 2018
  • Occupational Health and Safety Act of 1993
  • Children’s Act 38 of 2005
  • Correctional Services Act 111 of 1998
  • Extension of Security of Tenure Act
  • Constitution of South Africa 108 of 1996
  • Road Traffic Act 93 of 1996
  • SANS Building Regulations 10400 and 10401
  • SANS The handling, storage and disposal of pesticides 10206
  • Protection of Personal Information Act 4 of 2013
  • Consumer Protection Act 68 of 2008

Al bogenoemde Wette word gebruik as basis om ’n standaard te skryf wat verseker dat die verbruiker tevrede is die produk wat hulle koop wel sosiaal en eties aanvaarbaar verbou word.

Derdens kyk die verbruiker na ’n produk wat omgewingsvriendelik verbou word. Die areas wat goed bestuur moet word is, in ’n neutedop, water, grond, energie, chemie, afval, biodiversiteit en ekosisteme.

Die bekendste en mees basiese standaarde in landbou is tans:

  • GlobalGAP
  • SIZA Social
  • SIZA Environmental

Met bogenoemde in plek behoort ’n Boer darem te kan uitvoer en kan mens ook voldoen aan ’n paar van die lokale supermarkte se vereistes. Daar is baie ander standaarde wat vereis word, maar bogenoemde bly die norm en minimum standaard.

Die probleem is dat bogenoemde standaarde geoudit word en dit is wat dit moeilik en duur maak. Nie net is die oudit proses ’n duur oefening nie, elke ouditeur interpreteer die standaard ’n bietjie anders en word, veral die grys areas van etiese en sosiale standaarde verskillend interpreteer en wat goed is vir een ouditeur is glad nie aanvaarbaar vir ’n ander een nie. Die boer spandeer baie aan die verbetering aan infrastruktuur net om agter te kom dat meeste van die infrastruktuur wat juis vir die werkers verbeter is, weer afgebreek word voor die oudit plaasvind. Die handhawing van die infrastruktuur om te voldoen aan die oudit vereistes kos ook baie geld. Dit wat 10 jaar terug ’n heel aanvaarbare praktyk was is nou glad nie meer aanvaarbaar nie.

Meeste boere wonder of dit die moeite werd is om aan al hierdie standaarde te voldoen en of dit nie makliker is om net soos in die “ou dae” te boer nie. Ongelukkig is hierdie houding nie volhoubaar nie want die verbruiker raak meer bewus van waar die produk wat hulle koop vandaan kom en die standaarde help eintlik dat die Boer die boerdery meer effektief bedryf.

Voldoening aan die standaarde beteken ook nie net kostes wat aangegaan word nie. Dit kan ook beteken dat die boerdery meer volhoubaar bestuur word. Byvoorbeeld, deurdat die minimum loon betaal moet word, moet die Boer maniere vind om sy arbeid meer effektief te bestuur. Dus word meer gedoen met minder mense. Deur te weet wat jou energie verbruik is, kan mens beter sisteme in plek sit wat energie verbruik verminder en dus kostes van energie af bring.

Indien die boer “agter” raak met die voldoening aan al hierdie verskillende standaarde, gaan dit naderhand te moeilik en duur wees om op te vang. Dus moet die Boer besef dat die boerdery van vandag kundigheid vereis in multidissiplinêre omgewings om te voldoen aan die verbruiker se vereistes en die beste prys vir die produk te ontvang.

Geskryf deur: Alana Snyman (MBA – Business School Netherlands)
Geredigeer deur: Braam Koekemoer

Share this article

Sluit aan by BOERhier!